GEORGE NUUS -Vir Zane Kirchner, die nuwe afrigter van die SWD Arende, is more (Saterdag 27 Januarie) se wedstryd teen NMU Madibaz sy vuurdoop.
Die Arende speel om 15:00 in hul eerste wedstryd van 2024 teen die universiteit se span in 'n vriendskaplike wedstryd. Die wedstryd vind op die Saasveld-rugbyveld op die kampus plaas. Toeskouers is welkom en toegang is gratis.
Dit sal die eerste wedstryd wees wat Kirchner aan die stuur van sake is en die laaste keer dat Anton Moolman, uittredende afrigter, by die span betrokke is.
Veda Manie, bestuurder van SWD-rugby, het gesê toeskouers is welkom, onderhewig aan die reëls van die universiteit.
Vir die Madibaz is die kragmeting tradisioneel voorbereiding vir hul deelname aan die Universiteitsbeker (Varsity Cup).
Vir die Arende is dit 'n geleentheid om verder voor te berei vir die amptelike wedstryde van die seisoen.
Die Arende se eerste amptelike wedstryd is die naweek van 23 Maart wanneer hulle op Outeniquapark uitdraf teen die Pumas in die SA Cup. Die kompetisie se eindstryd is op 25 Mei.
Daarna volg 'n rustydperk en die Arende begin sy veldtog in die eerste divisie van die Curriebekerreeks op 15 Junie teen die OP. Dis 'n tuiswedstryd vir die Arende.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’