GEORGE NUUS - Tydens 'n gemeenskapsvergadering verlede week in Blanco, het adv. Lennit Max, raadgewer van genl. Bheki Cele, minister van polisie, nie net gepraat oor hoe misdaad opgelos kan word nie, hy het ook geluister.
En die gemeenskapslede het nie teruggehou nie. Hulle het goed bors skoongemaak oor wat hulle van die polisie pla en ook voorstelle gemaak om misdaad te bekamp en op te los.
Van die aangeleenthede wat geopper is sluit in beweerde polisie-brutaliteit, buurtwagte wat glo nie altyd die nodige ondersteuning kry nie, gebrekkige toerusting en 'n tekort aan polisielede. Van die euwels wat geopper is sluit in dwelms en probleme by skole.
Max het George besoek as deel van 'n uitreikaksie na die gemeenskap. Max, wat voorheen 'n lang, suksesvolle loopbaan in die polisie gehad het en daarna ook politikus was, is beskryf as iemand wat die oor van Cele het.
Die vergadering is bygewoon deur onder meer senior polisielede, verteenwoordigers van buurtwagte, gemeenskaps-polisiëringsforums, staatsdepartemente, lede van die George-stadsraad en gemeenskapsleiers.
André Olivier van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, het gesê na die onlangse bekendmaking van die misdaadsyfers is dit duidelik dat dit soos 'n pasiënt is wat in die intensiewesorgeenheid van 'n hospitaal is.
Max het deurlopend gewys op die belangrikheid van die gemeenskap se betrokkenheid en dat die polisie en die gemeenskap saam hande moet vat om misdaad op te los.
Hy het verwys na die jongste misdaadsyfers waaruit dit blyk dat daar elke dag 57 mense in Suid-Afrika vermoor word.
Misdaad "diskrimineer" nie op grond van velkleur nie. Dit raak alle mense.
Volgens Max het Cele na die onlangse bekendstelling van die misdaadsyfers gesê dit is nie sleg nie. "Dit is verskriklik."
Na 'n onlangse nasionale beraad oor misdaadbekamping is besluit dat die tyd verby is dat mense beplan vir mense om misdaad op te los. "Ons beplan nou saam."
Max het gesê dit is slegs 'n klein groep misdadigers wat die land se miljoene inwoners gyselaar hou. Die enigste wyse om misdaad nek om te draai, is deur gemeenskapsbetrokkenheid.
Inwoners van George tydens die gemeenskapsvergadering in Blanco waar hulle vrae gestel en bors skoongemaak het oor dinge in die polisie wat hulle pla.
Foto: Eugene Gunning
Wanneer iemand met die misdaadsituasie gekonfronteer word, het hy/sy drie keuses:
- Jy kan kritiseer;
- Jy kan besluit om pad te gee uit die gebied waar die misdaad plaasvind en selfs die land verlaat of
- Jy kan as verantwoordelike landsburger betrokke raak by die oplossing.
Die polisie se sukses moet nie net gemeet word aan die hoeveelheid arrestasies nie. Misdaadvoorkoming moet ook aandag kry. "Ons wil nie slagoffers hê nie."
Oor kritiek en beweringe van swak polisiegedrag het Max gesê dit is byvoorbeeld onaanvaarbaar dat 'n polisielid vloek soos 'n matroos.
Hy het gesê die vraag deur een van die aanwesiges oor waarom polisielede nie saam met buurtwagte patrollie kan stap nie is 'n geldige punt.
Max het na die vergadering aan die George Herald gesê daar is nie 'n manier dat die polisie alleen misdaad kan bekamp nie. Gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'