GEORGE NUUS - Minke Janse van Rensburg is Suid-Afrika gestremde sportvrou van die jaar. Sy is gisteraand (25 Maart) by Sun City in Noordwes tydens die SA Sport Awards in die afdeling gestremde sportvrou van die jaar as die wenner aangewys.
Die 18-jarige swemsensasie van George het by die glansgeleentheid nie net George, maar ook die hele streek trots gemaak.
By die geleentheid is toperkenning gegee aan Suid-Afrikaanse sportlui in al die sport sfere. Sy het reeds verskeie wêreldrekords opgestel. Dit sluit in vier ope-wêreldrekords en verskeie senior wêreldrekords.
Minke se ma Aletta was saam met haar by Sun City waar die rooi tapyt letterlik uitgerol is. Minke keer aanstaande Sondag terug na George.
Haar pa Hennie het vanoggend aan George Herald gesê hy is bly dat Aletta die oomblik kon beleef. "Dit is mos so mengsel van trots en dankbaarheid."
Hy het met Minke na die geleentheid gesels. Sy is baie opgewonde en verheug oor die toekenning.
"Ons is super trots op ons meisiekind en dankbaar vir haar talent wat so positiewe impak op haar lewenskwaliteit het. Ons is dankbaar teenoor haar afrigters by die Garden Route Swim School en die ondersteuning wat sy daar ontvang en veral ook vir die geleenthede wat Fish Eagle Aquatics en Swem Suid Afrika skep sodat sy kompeterend kan swem.
"Sy geniet die galas en dit motiveer haar om baie hard te werk. Minke oefen daagliks 'n uur en 'n half in die swembad saam met die klub se senior oefengroep en sy sit nie terug nie maar swem elke lengte wat hulle swem en doen dit voluit."
Volgens hom swem sy die SASA-Ii Nasionale gala in Rustenburg. "Dan afronding vir 'n week by die klub voordat sy by die Swem Suid Afrika Nationala Gala in Gqeberha swem en die week daarna in Durban by die SA Skole gala."
Minke se volgende internasionale gala is die Global Games in Junie in Frankryk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’