Update
GEORGE NUUS - Hy het nooit getwyfel dat die winkel weer sy deure sal oopmaak nie. So het Jacques Matthee, eienaar van Millies Superette op Blanco, Dinsdag gesê.
Die onderneming, een van George se oudste en bekendste sakeondernemings, is vroegoggend op 27 Desember 2018 in 'n brand verwoes. Verlede Donderdag, 27 Februarie, presies 14 maande na die brand het dit weer sy deure heropen.
Millies bestaan al 50 jaar en Matthee is die laaste klompie jaar daarby betrokke.
Na die brand was dit onbepaald gesluit. Skade van duisende rand is destyds in die brand aangerig. Die oorsaak van die brand was 'n elektriese probleem. Geskokte inwoners het die oggend van die brand by die toneel saamgedrom terwyl die rook by die dak uitgeborrel het.
Matthee het Dinsdag vertel van die uitdagende pad wat hy die afgelope 14 maande moes loop. Dit is nie iets wat hy sy grootste vyand toewens nie. 'Dit was 'n pad vol logistieke uitdagings - dit is hoekom dit so lank geneem het om weer die deure te kon oopmaak."
Volgens hom was dit 'n "geloofsuitdagende fase" om al die struikelblokke te oorkom.
Die hele gebou is binne herbou en die winkel is nou groter as in die verlede. "Al die personeel wat in geloof vertrou het dat dit weer sal oopmaak, is weer aangestel. Altesaam 15 ekstra werksgeleenthede is ook geskep."
Die terugvoering wat hulle van klante ontvang, is positief. "Mense is opgewonde dat ons weer oopgemaak het."
Matthee huur op die oomblik die perseel, maar onderhandel om dit moontlik in die toekoms te koop.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'