So het Pieter Naudé, voorsitter van Wilderness se belastingbetalersvereniging, gesê, in gesprek oor die unieke manier waarop 'n dorpsprojek beide die omgewing skoon én veilig hou.
Die Wilderness Verbeteringsprogram, waarvan Naudé ook die projekleier is, het 'n projek ontwikkel waartydens karwagte opgelei is om as dorpsambasadeurs diens te lewer. Die projek, wat sowat twee jaar gelede as 'n proefprojek begin is, ontvang geldelik provinsiale steun van die departement van openbare werke. Dit is egter die sakelui van Wilderness wat die grootste bydrae tot die ambassadeurs se vergoeding lewer, het Naudé gesê.
Hy het verduidelik dat etlike klagtes van besoekers en inwoners gelei het tot die ontwikkeling van die projek.
"Ons moes iets doen wat prakties doenbaar en volhoubaar is," het hy gesê.
"Mense het begin om verby ons dorpie te ry, omdat hulle nie meer deur aggressiewe werkloses lastig geval wil word nie."
Ambassadeurs vir Wilderness
Deesdae sorg 'n span van vier dorpsambassadeurs - soos hulle genoem word - dat die omgewing skoon bly, én veilig is. Hulle is Rolano Prins, Anthony (Duimpie) Moos, Jandré Appels en Gladwin Booysen.
Volgens Naudé strek hul funksies veel verder as om bloot "motors op te pas".
Die ambassadeurs sorg dat hulle besoekers bystaan met nuttige inligting, indien hulle byvoorbeeld 'n plek soek. Hulle lewer 'n
diens aan besoekers en die gemeenskap.
Die vierstuks patrolleer die dorpsgebied van 09:00 tot 22:00, en werk in twee skofte. Die ambassadeurs is in verbinding met die plaaslike polisiediens, wat sal help indien 'n situasie dit benodig. Die persoon aan diens tydens die oggendskof maak ook die vullisdromme skoon, en vee die sypaadjies.
'n Fiets vir die ambassadeurs
'n Spesiaal ontwerpte fiets, met baie spasie om vullissakke te laai, word deesdae inge-span om die ambassadeurs met hul dagtaak te help. Die fiets is sowat 'n maand gelede in ontvangs geneem, en word tussen die ambassadeurs gedeel.
Tommy Roberts, 'n afgetrede ingenieur van Sedgefield, het die fiets ontwerp. Jaco Londt, plaaslike LP van Wilderness, het die borgskap vir die fiets gereël. Dit het sowat R3 500 gekos. Volgens Rudy Bosch, die toesighouer van die projek, maak die fiets die ambassadeurs se werk soveel makliker. "Hulle hoef nie meer die sakke op hul skouer te sit en dra nie, maar laai dit nou agterop die fiets. Die patrollering is ook heelwat vinniger. Hulle kan 'n groter area dek," het hy gesê.
*The Village Ambassador's Program in Wilderness got a new look with a specialised bicycle to help the ambassadors with their chores. The bicycle is designed to carry refuse bags, which the ambassador on the morning shift collects from all over town. Four ambassadors patrols the town area from 09:00 until 22:00 to create a safe and clean environment, said Pieter Naude, the project manager.
Spesiaal ontwerpte vullisdromhouers is oral in Wilderness se dorpsgebied te vinde. Dit is van hout gemaak, met los dromme in die binnekant. Hierdie is ook 'n projek van die Wilderness Verbeteringsprogram, en is deur die inwoners self finansier.
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'