GEORGE NUUS - Bene wat by die Ou Tolhuis in die Montagupas gevind is, het die publiek behoorlik aan die gons op sosiale media.
Luidens 'n inskrywing op die Facebook-blad, SABC News Western Cape, is menslike oorskot glo by die tolhuis gevind.
'n Plaaslike inheemse leier word aangehaal waar hy sê dat die bene tydens 'n wandeling naby die Ou Tolhuis, wat deur die onlangse vuur verwoes is, gevind is. Hy sou glo sê dat hulle vermoed die bene is die oorskot van slawe wat die Montagupas in die 1800's gebou het. Die George Herald se pogings om die inheemse leier te kontak vir kommentaar het ongelukkig nie geslaag nie.
Gerda Stoltz, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, het by navraag bevestig dat die beweringe alles bog is. Die beentjies is blykbaar die oorblyfsels van 'n uitstalling wat in die tolhuis ten toon gestel is. "Dit is die rugstringbeentjies van 'n skaap," het sy gesê. "Die kinders in die Groot Trek het 'n kakebeen van die skaap geneem en hul eie wa gemaak. Die rugwerwels was die osse. Die grotes agter en kleintjies voor en die stuitjiebeentjie was die touleier."
Die beentjies was in 'n houtwaentjie wat in die tolhuis uitgestal was. Volgens Stolz was daar verlede Vrydag 'n Khoi-man by die tolhuis. Die tolhuis was op daardie stadium reeds gesluit weens vandalisme, maar Stolz reken die man het waarskynlik die beentjies deur die venster van die tolhuis gesien.
"Die waentjie het afgebrand en die beentjies het op die as bly lê, op dieselfde plek waar dit uitgestal was. Hy moes dit seker deur die venster gesien het, want mens kon duidelik die beentjies sien lê."
Die sekerheidswag by die tolhuis het Stolz egter later die Vrydagmiddag gebel en gesê die polisie is by die tolhuis en wil met haar praat. "Die Khoi-man was ook op die toneel," het sy gesê. "Die polisie het gevra of ons skedels daar het, en ek sê toe 'nee'. Ons het ingegaan en hulle was tevrede toe hulle die rugstringbeentjies sien."
Die beentjies was in 'n houtwaentjie wat in die tolhuis uitgestal was.
Volgens Stolz het die Khoi-man die stuitjiebeentjie geneem, en was hy die volgende dag weer by die tolhuis. "Ons het gesels en ek het hom gevra of hy nou verstaan dat hy stuitjiebeentjies gesien het. Hy het 'ja' gesê en ek het gedink die saak is opgelos. Ek was baie ontsteld toe ek oor die voorval op sosiale media lees. Hy het onderneem om dit reg te stel, maar daar het niks van gekom nie.
"Dit was ontstellend genoeg dat die plek afgebrand het, 'n mens wil nie nog met so iets ook gekonfronteer word nie. Dit is vir my in slegte smaak dat mense dit vir hul eie publisiteit wil gebruik."
Die inskrywing op die Facebook-blad, SABC News Western Cape, waarin daar beweer word dat menslike oorskot glo by die tolhuis gevind is.
A facebook post on bones found at the Old Toll House in the Montagu Pass grabbed the attention of the public. According to an entry on the Facebook page "SABC News Western Cape", human remains were found at the toll house. Gerda Stoltz, curator of the toll house, confirmed that the allegations were absolute nonsense. The bones are apparently the spine bones of sheep that historically served as children's toys, using them as make believe oxen in front of a sheep jaw 'wagon'. It formed part of an exhibition that has been shown in the toll house.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'