GEORGE NUUS - 'n Boomslang, oënskynlik opsoek na 'n worsbroodjie, het verlede Donderdag, 6 Januarie groot konsternasie in die parkeerterrein van Van Rensburgs Foods in die stadskern veroorsaak.
Maar, danksy die vinnige optrede van slangvanger en -kenner, Dirk Barnard, is die situasie in 'n japtrap ontlont. Omstanders was senuagtig en sommige selfs beangs.
Chantell O'Moore het Maandag vertel dat sy en haar man, Peter, omstreeks 17:00 by die parkeerterrein aangekom het. Talle mense was reeds oppad huiswaarts maar die egpaar het 'n samedromming in die parkeerterrein gesien.
Hulle hoor toe 'n slang het van 'n voertuig afgeseil en dat 'n brawe karwag die reptiel aan die stert probeer gryp het. "Die slang het losgekom en onder 'n ander voertuig ingeseil. Mense het geskrik."
Haar man het dadelik 'n slangvanger gebel, maar hy was nie naby genoeg om te help nie. Hy het onderneem om iemand anders te kry om te help, en Barnard, die eienaar van DB Plumbing, was binne minute op die toneel. Hy het 'n permit van Cape Nature om slange te verwyder.
Barnard vertel die slang is na 'n soektog in die betrokke voertuig se enjin gevind.
Heel toevallig het die slang hom tuisgemaak in sy buurman, Emil Altona se voertuig.
Barnard kon die slang se kop sien en dit het by tye beweeg. Gelukkig het hy die nodige gereedskap byderhand gehad en kon hy die slang verwyder. Hy het ook slangvanghandskoene gebruik - 'n slang kan nie daardeur pik nie.
Die hele proses het sowat 20 minute geduur. "Dit was nie so moeilik nie. Dit was net 'n kwessie van spasie."
Barnard het die slang in 'n kussingsloop gesit en sowat 20 km buite George vrygelaat.
Boomslange is giftig, en Barnard sê dis normaal dat hulle die tyd van die jaar hulle verskyning maak. Hul metabolisme is vinniger omdat dit warmer is.
Sy advies aan mense wat op 'n slang afkom is om 'n veilige afstand tussen hulle en almal wat by hulle is van die slang te handhaaf. Hou ten alle tye 'n oog op die slang want dit sal die slangvanger se taak vergemaklik om die dier te vang.
Dirk Barnard
Hy het benadruk slangvangers werk nie vir die munisipaliteit nie en vra donasies om hul kostes te dek. Mense is welkom om hom op sy Facebookblad, George Snake Rescue, te volg.
Altona vertel op sy beurt hy was binne Van Rensburgs toe 'n karwag hom roep en sê daar is 'n boomslang by sy kar.
"Ek was verbaas, maar is nie bang vir 'n slang nie. Ek is net versigtig."
Om meer oor dié interessante soort slang te lees, besoek hier.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'