Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - Die uitdagings waarmee mense met gestremdhede te doen kry, het verlede Vrydag, 25 Maart, opnuut na vore gekom tydens 'n geleentheid van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK).
Vir duisende landsburgers is dit vanself-sprekend om tydens verkiesings na 'n stem-lokaal te gaan en hul kruisies te gaan trek. Vir dié met gestremdhede is daar egter bepaalde uitdagings.
As deel van Menseregtedagvieringe is 'n geleentheid by die Pacaltsdorp-gemeenskapsaal deur die OVK vir lede van die Vereniging vir Persone met Gestremdhede (APD) gehou. Die fokus was dat mense met gestremdhede ook in verkiesings kan stem.
Altesame 16 APD-lede, waarvan sommige gesiggestremd is, het die geleentheid bygewoon. OVK-personeel het aan hulle verduidelik hoekom dit belangrik is om te stem, hoe die stemproses werk en hoe demokrasie werk.
Keith Muller van die OVK het gesê mense met gestremdhede het presies dieselfde regte soos enige ander landsburger. Hy het 'n kort oorsig gegee hoe demokrasie in Suid-Afrika gevestig is en dat alle mense sedert 1994 dieselfde regte het.
Hy het ook verduidelik hoe werk verkiesings en hoe word byvoorbeeld stads-raadslede verkies.
VIDEO'S: Mense met gestremdhede mag ook stem
Muller het verduidelik dat daar voorsiening gemaak word vir spesiale stemme wat voor stemdag plaasvind en dat mense daarvoor kan aansoek doen.
Glen Fortuin, gemeenskapsontwikke-lingswerker van die APD, het gesê die organisasie is daar vir mense met gestremdhede. Daar is 'n dagsorgsentrum in Pacaltsdorp waar 50 kinders gehelp word en verskillende leerprogramme word ook hier aangebied.
Volgens hom was die doel van die geleentheid om jong volwassenes te leer dat hulle ook geregtig is om te kan stem en hulle in te lig oor watter hulpmiddele in die stemlokale tot hul beskikking is. Dit was die eerste keer dat hulle 'n geleentheid van die OVK bygewoon het.
Sulke geleenthede word georganiseer sodat die betrokkenes lewensvaardighede kan aanleer. Dit is om hulle te bemagtig om onafhanklik te kan funksioneer. Volgens hom was die geleentheid 'n groot sukses en die groep het baie daarby gebaat.
Lede van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) saam met lede en personeel van die Vereniging vir persone met gestremdhede (APD).
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) verduidelik vir lede van die Vereniging vir persone met gestremdhede (APD) hoe die stemproses werk.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'