GEORGE NUUS - Boet Troskie, die rolprentmagnaat en produseerder van die gewilde Jamie Uys films - het 'n woning op die Fancourt-landgoed waar hy en sy aanvallige vrou, Tracy, af en toe 'n draai kom maak. Hy het voorheen in George gewoon en jare gelede besighede saam met sy broer Bill besit. Die Troskie-egpaar is dit eens dat George 'n wonderlike plek is om te woon. "Daar gaan deesdae baie meer aan in George as in Bloemfontein," vertel die voormalige Bloemfonteinse sakeman.
Boet is eintlik dr. Troskie - hy het in 2007 'n eregraad verower aan die Universiteit van Tegnologie Bloemfontein. Tydens 'n onderhoud vertel die opgewekte Boet met smaak hoe hy destyds in die tagtigerjare die Hollywood-base uitoorlê het deur aan te dring op 'n deel van die opbrengste van die film, The Gods must be Crazy wat toe ontpop het in 'n ware lokettreffer. Dit het $200-miljoen (dollar) wêreldwyd geïn insluitende in SA, VSA en Japan. Die uitgeslape besigheidsman is tans besig om te onderhandel met Hollywood-rolprentmakers om 'n animasie-rolprent te maak van dié einste treffer.
Toekennings
Die man wat reeds 26 rolprente geproduseer het, vertel dat hy ongelooflik opgewonde is oor die nuutste projek. Hy is ongetwyfeld begeesterd met die idee dat die film uiters geskik is om in 'n nuwe (animasie) formaat die lig te sien. The Gods must be Crazy - het vir drie jaar in die VSA gedraai en talle toekennings verdien. In 2000 is die rolprent deur Yahoo! genomineer en deur Amerikaners as die sewe beste buitelandse (foreign) film ooit geproduseer. Hy glo die naïewe storie maak dit uiters geskik vir animasie.
"Ek het reeds die steun van een van Hollywood se bestes Steve Aranguren 'n animasie-kenner. Maar ek het al geleer om geduldig te wees dit gaan jare neem voordat die rolprent voltooi is." Intussen vlieg die Troskies wat in België getroud is gereeld na Los Angeles.
Min mense het geweet dat Boet Troskie en Jans Rautenbach onmiddellik gekliek het en van plan was om saam 'n film te vervaardig waarvoor Jans reeds die draaiboek geskryf het.
Tracy, wat sy sakepraktyk bestuur, is tans besig om dinge hier in SA te konsolideer. Vier van hul vyf wonings is in die mark.
Epiese stap
'n Kleurvolle staaltjie wat Boet graag vertel is die epiese staptog wat hy onderneem het in 1967 om Universal Artists Studios in Londen te oortuig om sy eerste "slapstick" film, Die Professor en die Prikkelpop te versprei. Hy was platsak en glad nie vertroud met die moltreine in Londen en het dus 05:00 die oggend begin stap met 'n behulp van 'n handgetekende kaart en die adres van die rolprentstudios.
Sy kennis van Engels was boonop gebrekkig. Struikelblokke ten spyt, het hy na vier en ’n halwe uur van stap in stywe kerkskoene die 'Ingilsmanne' kon oortuig van die rolprent se verkoopbaarheid. Hulle het die film bekyk en hy is daaruit met 'n 10 000 pond tjek (wat 'n reusebedrag was toentertyd om te belê in 'n onbekende sakeman).
Terug in Bloemfontein in die Mimosa-rolprentateljee het die filmmaker Jamie Uys gebieg teenoor Troskie,
"Ek het eerlik nie vir 'n sekonde kon dink dat jy dit gaan regkry nie. Ek was verkeerd oor jou en ek sal daai fout nooit weer maak nie."
Die film, The Professor and the Beauty Queens is geproduseer en Jamie Uys het 'n rol daarin gespeel. Die bekende Gert van der Berg, Reinet Maasdorp en Tini de Lange was die ander akteurs. Boet se biografie Op Vlerke van Wysheid is deur dr. Jan-Ad Stemmet en die Mimosa-groep uitgegee.
Benoudste oomblik
Een van die moeilikste tye in sy lewe was toe Jamie Uys tydens die maak van die miljoen dollar rolprent, Beautiful People 'n hartaanval gekry het as gevolg daarvan dat hy homself oorwerk het. Terwyl Uys in 'n intensiewe-sorgeenheid vir sy lewe geveg het (en die Hollywood-base ongeduldig geraak het met wag vir die eindproduk) moes Boet 'n manier vind om sy finansiers gelukkig te hou.
Hans Strydom en Lena Ferugia was van die aantreklike sterre wat bygedra het tot die sukses van Jamie Uys se film, The Gods Must be Crazy II, waarvan Boet Troskie die produseerder was.
Hy was letterlik in tamatiestraat. Standard Bank het juis op die tydstip 'n reddingsboei van tussentydse finansiëring aangebied en die vertroue uitgespreek dat die film wel klaargemaak sal word - wat toe die wel geval was. Dit was op 'n tydstip wat die vervaardiging van die rolprent reeds drie jaar gesloer het. "Jamie Uys was 'n uiters intelligente mens. Hy het hom nie laat aanjaag nie."
Mal oor George
Nog 'n groot trekpleister en rede waarom hul hier kom vestig het is dat Boet se dogter Elna Troskie in George woon. Hy was verlede week juis bly dat hy haar kon bystaan toe sy geval het en haar been gebreek het. Sy ander dogter Rina woon in Kalifornia. Boet glo nog steeds in wonderwerke en dus is hy en Tracy gereed om die volgende avontuur aan te pak.
Boet Troskie en Jamie Uys se drama Dirkie was 'n uitsondering op die reël. Die vennote het meestal verkies om "slapstick" komedie te vervaardig. Sommige van die 26 films geproduseer deur die vennote het 'n ikoniese status bereik by beide die Suid-Afrikaanse publiek en internationale aansien geniet vir hulle uniekheid.
Feite in kort:
• In 1964 het Boet Troskie 'n vennootskap aangegaan met Jamie Uys om films te produseer waarvan Die Professor en die Prikkelpop sowel as die The Professor and the Beauty Queen 'n eerste gesamentlike film was.
• In 1969 is Dirkie produseer. In Dieselfde jaar word 'n verspreidingsooreenkoms getref met Columbia Pictures vir Lost in the Desert wat 'n toekenning gekry het in 1972 in die Teheran-filmfees.
• Vanaf 1969 tot 1989 produseer Boet elke jaar een film wat Beautiful People, Funny People, Sonja, Grensbasis 13, waarvan The Gods must be Crazy10 internasionale toekennings ingeoes het.
• In 1992 het die International Biographical Centre of Cambridge England hom vereer met 'n "For service to the independents film industry toekenning in 1994 is die Hundred Leaders of Influence on display at the US Library of Congress, Washington DC toegeken.
• In 2008 het die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) hom vir sy bydrae tot die groei en ontwikkeling van die besigheidsektor van Bloemfontein vereer.
• In 2015 is die Medal of Honour deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aan hom toegeken.
Boet en Jans Rautenbach beoog om nog 'n film saam te maak en Jans het spesiaal 'n draaiboek geskryf vir die gesamentlike projek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'