Update
TUINROETE NUUS - 'n Gedenkhoekie vir wyle Matlann Fielies, liefling van die Riversdal Blues-rugbyklub, het sy spanmaats en ondersteuners laat voel asof hul voormalige kaptein nog steeds by hulle is. Die Blues het onlangs hul klubafskeid en prysuitdeling op 'n perseel by die Riverville-stadion gehou.
Fielies, 'n orgaanskenker, is in April vanjaar vermoedelik weens 'n rugbybesering oorlede. Hy het 'n gesigbesering tydens 'n wedstryd op sy tuisgrond, teen Progress van George, opgedoen. Fielies het glo sy neus tydens 'n skrum gebreek en het nooit heeltemal na die voorval herstel nie.
Die George Herald het destyds oor Fielies se nalatenskap, wat veel wyer strek as sy sportmanskap, berig. Met Fielies se dood is verskeie mense se lewens gered nadat hulle sy organe ontvang het.
Met die klub se funksie, Saterdag 12 Oktober, het hul voorsitter, Reon Sauls, 'n area by die ingang na die saal met verskeie memorabilia ingerig, wat na Fielies se dood aan sy ma, Merle Fielies, geskenk is.
Onder die items was 'n geraamde rugbytrui, 'n spelersbal van waardering vol Bybelverse (geskenk deur Progress) en Fielies se trofee vir Sportman van die Jaar 2018.
"Groot manne het gehuil. Dit het gevoel of hy daar was," het Sauls gesê. Heinrich Fortuin, sportverslaggewer van Suid-Kaap Forum, het die geleentheid gebruik om van homself ook 'n foto by 'Matlann se hoekie' te laat neem.
"Ek het net daai oomblik so gemis. Weet jy as ek so gaan aksiefoto's neem dan mis ek hom deur my lens, want rugby was vir hom alles," het Fortuin gesê. "As jy so geheg raak aan 'n goeie speler op die rugbyveld, en jy haal jou kamera uit, dan besef jy rêrig hoe 'n mens hom mis."
• 'n Weldoener het Fielies se toks verbrons en aan sy ma geskenk. Dit was een van haar wense na sy dood. Merle Fielies se ander groot begeerte is om die mense te ontmoet aan wie haar seun se organe geskenk is. Volgens Fielies se suster, Jenneve-Lee Fielies, sou dít hul ma berusting bring. (Lees Jenneve-Lee Fielies se brief op bl. 29)
Spanmaats: Kloksgewys van links is Andrew Jacobs, Michael Hendricks, Danville Plaatjies, Leandra Sauls, Heinrich Abrahams, Andriaan Jansen en Frederik Hartnick.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'