GEORGE NUUS - 'n Man (61) van Pacaltsdorp is verlede week in hegtenis geneem nadat hy na bewering 'n vrou (21) seksueel aangerand het.
Die voorval het volgens inligting naby Groothoek op die Hansmoeskraalpad plaasgevind. Die verdagte verskyn weer op 2 Desember in die George-landdroshof.
Volgens Pacaltsdorp-polisie se stasiebevelvoerder, is die man op Vrydag 8 November by sy woning in hegtenis geneem ná die klaagster die voorval by die polisie aangemeld het.
Voorlopige inligting dui daarop dat die verdagte die slagoffer onder valse voorwendsels op dieselfde dag van haar werk af weggelok het, vermoedelik met beloftes van ander werk. Hy het daarna na bewering met haar in sy motor na Hansmoeskraal gery waar hy haar seksueel aangerand het.
Die verdagte het sy eerste hofverskyning op Maandag 11 November gemaak waarna die saak uitgestel is vir verdere ondersoek. Hy is op borgtog van R500 vrygelaat.
Die verdagte se identiteit is aan die George Herald bekend, maar weens die feit dat dit 'n seksuele misdryf is, mag sy identiteit nie bekendgemaak word tot hy op die aanklagtes teen hom gepleit het nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'