GEORGE NUUS - Fabian Stoffels van Conville, sy vrou en drie kinders was gisteraand omstreeks 20:00 op die N2-snelweg onderweg in die rigting van Pacaltsdorp, toe 'n groot klip hulle kar se voorruit tref.
"Die groot klip het skaars ons voorruit getref, toe nog 'n klomp kleineres op ons neer reën," het Stoffels gesê. Hy het dadelik vermoed iemand is besig om klippe vanaf die brug oor die N2 in hulle rigting te gooi.
Dit was egter baie donker en hy kon nie mense op die brug sien nie. Op die pad voor hom was daar nog baie glasstukke, bakstene en klippe. "Dit het my die idee gegee dat ander voertuie ook getref is," het hy gesê.
Stoffels wou eers aftrek langs die pad, maar 'n voertuig wat net agter hom gery het, het met sy ligte 'n aanduiding gegee wat hom twee keer laat dink het. "Die kar het verby my gery en ek het besluit om die kar te volg. Dit was asof die bestuurder vir my wou sê ek moenie aftrek nie."
Stoffels en die bestuurder van die ander voertuig het tot in Beachweg gery en afgetrek voor 'n polisievoertuig wat langs die pad gestaan het.
"Ek het die voorval aangemeld en toe sê die beampte: 'Moenie vir my sê jou voertuig is ook stukkend nie'," het Stoffels gesê. "Ek was nie bereid om weer terug te ry na Thembalethu-polisiestasie om die voorval aan te meld nie, want ek was bang ons word weer met klippe gegooi. Ek het dit by die Pacaltsdorp-polisiestasie aangemeld."
Die George Herald se pogings om kommentaar van die polisie oor die voorval te bekom het tot dusver misluk. Kapt. Malcolm Pojie, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is nie op die oomblik beskikbaar nie.
Die skade aan Fabian se motor.
Pacaltsdorp-polisiestasie het die George Herald verwys na die woordvoerder by die Thembalethu-polisiestasie, kapt. Dumile Gwavu. Volgens Gwavu is niks by hulle stasie gerapporteer nie, en hulle het ook geen voorvalle in die verband van ander polisiestasies ontvang nie.
Stoffels het vanoggend gesê sy kinders was getraumatiseerd na die voorval. "Hulle was duidelik nie lekker nie. Die een se lip het gebewe, die ander ene het die heeltyd gepraat en die derde enetjie se oë het strak vorentoe gekyk."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'