GEORGE NUUS - 'n Inwoner van Dormehlsdrift, wat verkies om anoniem te bly, wil ander waarsku om te alle tye waaksaam te wees oor hul omgewing.
Die waarskuwing spruit uit 'n voorval verlede Sondag, 24 Oktober, waarin twee onbekende mans die slagoffer glo probeer beroof het.
"Ek was op pad huis toe ná ek in die berg gaan stap het. Een van die mans het gemaak asof hy 'n drawwer is. Hy het voor my in die pad gestop en my genader waarna hy my gedreig het en my selfoon wou hê. Toe maak die tweede een sy verskyning," vertel die slagoffer.
Hy het gelukkig niks van waarde by hom gehad nie, maar die mans het hom steeds met sy lewe gedreig en gesê as hy nie vir hulle sy selfoon gee nie, hulle hom sal skiet.
"Terwyl die een my dreig met 'n kierie was die ander een besig om my sakke te deursoek. Ek het kalm gebly en toe hulle klaar gesoek het en niks gevind het nie, het hulle my gelos en geloop," vertel hy.
Die saak is nie by die polisie aangemeld nie.
"Die tipe goed gebeur in Gauteng, waar 'n man onlangs doodgeskiet is vir sy fiets, en nou gebeur dit hier. Dis hartseer.
"Ons kan nie eers meer alleen gaan stap in die middel van die dag sonder om bang te voel nie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'