GEORGE NUUS - ‘n Man wat van die verkragting van ‘n minderjarige in 2014 beskuldig word, het vandag in die Thembalethu-streekhof verskyn waar hy self agter die getuiebank ingeskuif het.
Hy word daarvan beskuldig dat hy die meisie, toe 9 jaar oud, by sy ma se huis in Pacaltsdorp verkrag het. Die verdagte, wat tans nie in aanhouding is nie, is op 26 Junie 2017 in hegtenis geneem na ‘n saak by die Pacaltsdorp-polisie aanhangig gemaak is.
Gedurende sy getuienis het hy ontken dat hy ooit aan die meisie geraak het en kon nie ‘n rede gee hoekom sy sulke aantygings sou maak nie.
Die slagoffer het in haar getuienis gesê die verdagte het saam met hulle in sy ma se huis gebly ten tyde van die voorval.
Volgens die verdagte het hy aan die einde van 2013 na Knysna verhuis en was slegs eenkeer gedurende 2014 in George toe hy sy oupa se begrafnis bygewoon het.
Die saak gaan op 27 Februarie in die Thembalethu-streekhof voort.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'