GEORGE NUUS - Die Garden Route-distriks-munisipaliteit (GRDM) het weer mense gewaarsku dat Madiba-rylaan (ou Saasveldpad) gesluit is vir verkeer ná Maandag 22 November se kitsvloede.
'n Groot gedeelte van die pad het weggespoel en is onbegaanbaar vir alle voertuie. Dit sluit fietse en motorfietse in.
Die herhaalde waarskuwing spruit uit 'n voorval waarin 'n fietsryer van die Paarl Vrydag 26 November ernstige beserings opgedoen het toe hy in die weggespoelde gedeelte in Madiba-rylaan geval het.
Hy het verskeie frakture opgedoen en is tussen 08:00 en 08:30 deur 'n verbyganger gevind. Nooddienste is ontbied en die fietsryer is deur ER24-paramedici na 'n plaaslike hospitaal geneem. Hy sterk in 'n hospitaal in die Paarl aan en is in 'n stabiele toestand.
Volgens 'n verklaring wat Vrydag-middag deur die GRDM uitgereik is, is padtekens wat aandui dat die pad gesluit is, by verskeie toegangs-punte en naby die sinkgat, wat George van die Nelson Mandela Universiteit afgesny het, geplaas.
Madiba-rylaan is sedert Maandag 22 November vir verkeer gesluit.
Versperrings op die pad naby die sinkgat. Foto: GRDM
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'