GEORGE NUUS - Die sakesektor in die Suid-Kaap voel die byt aan hul sakke met die dat die George-lughawe nog nie weer oopgestel is nie.
By van die land se groot lughawens soos Kaapstad, Johannesburg en Durban is daar wel vlugte in en uit na die verslapping van die inperkingsmaatreëls.
David Maynier, Wes-Kaapse minister van finansies en ekonomiese geleenthede, het verlede week 'n brief aan die nasionale minister van vervoer, Fikile Mbalula, geskryf waarin daar gevra word dat dit weer oorweeg moet word om George-lughawe te heropen.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het hom ook ten gunste van die heropening uitgespreek.
Verteenwoordigers van die sakegemeenskap het Maandag gewys op die belangrikheid van die spoedige heropening van die lughawe.
Hein Pretorius, medevennoot van Warthog Blade Sharpeners, het gesê die lughawe moet heropen. "Ons maak baie gebruik van lugvrag. Ek kan nie verstaan dat die lughawe nog gesluit is nie. Ons voer hoofsaaklik uit en sluit lande soos Amerika, Kanada, Engeland, Duitsland, Frankryk, Italië, Rusland en Australië in. Ons is baie afhanklik van lugvervoer."
Benewens die produkte wat hulle uitvoer word van die komponente in die vervaardigingsproses per lugvervoer na George gebring. Die huidige situasie is stremmend op hul produksie. Dit het reeds hul verkoopsyfers nadelig geraak.
Hannes Myburgh, besturende direkteur van OstrichDotCom, het gesê hulle maak gebruik van lugvrag. Die vertragings in e-handel besendings word met 'n week verleng. Van die pakkies word gewoonlik uitgevlieg van George, maar nou word dit eers op 'n trok gelaai en dan per pad na Johannesburg vervoer.
Hulle kan wel in die stadium voortgaan, maar dit het ’n rimpeleffek. As klante in die buiteland te lank moet wag vir hul produkte is dit moontlik dat hulle van plaaslike bronne daar gebruik sal begin maak.
Gavin Linsley-Noakes, mede-eienaar van PHC Berries, het gesê dis 'n probleem, maar nie onoorkomelik nie. Van hul produkte word na Kaapstad-lughawe geneem. Dit sal egter beslis help as die lughawe weer oop is. Hy moet klante in ander dele van die land gaan besoek en kan dit nie nou doen nie.
Chris Scholtz van Data Dot het gesê as al die nodige veiligheidstappe en beheermaatreëls in plek is behoort die lughawe weer oopgestel te word. Onnodige risiko's moet egter nie geneem word nie.
Kemp Myburgh wat met proteas en speldekussings op sy plaas, Florburgh Proteas boer, het gesê sommige van die plaaslike produsente in die bedryf word geraak. Soms gebeur dit dat mense vinnig blomme in Johannesburg moet kry.
Hulle het al meer van die lughawe begin gebruik maak en dit het gehelp met kostes en tyd.
Volgens dr. Dennis Farrell, voorsitter van die George-sakekamer, is die terugvoering wat hy van die lughawebestuur gekry het dat dit aandag kry. Dis nog nie duidelik wanneer dit sal gebeur nie.
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, het gesê lugvrag en sakereise word geraak. "Die George-lughawe is die deurgangsroete na die Suid-Kaap en kan help met die ekonomiese groei in die streek."
Businesses in the Southern Cape is feeling the impact of the closed George Airport. That have been confirmed by several business-leaders that uses the airport. Western Cape minister of Finance and Economic Opportunities, David Maynier last week wrote to the national Minister of Transport, Fikile Mbalula, to request an urgent re-consideration of a decision not to open George Airport under Level 3 lockdown.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'