GEORGE NUUS - Twee ma's van George, wat besorg is oor die toekomstige beskikbaarheid van plek in skole vir hulle jong kinders is op soek na grond waar hulle 'n Afrikaanse privaat skool kan vestig, maar hulle kla dat onvoldoende kommunikasie deur die beplanningsdepartement van die George-munisipaliteit hulle planne met etlike maande vertraag het.
Hulle het die munisipaliteit in Maart 2022 genader oor die ryskoolperseel in Glenwoodlaan nadat hulle reeds verskeie privaat eiendomme oorweeg het wat nie aan hulle vereistes voldoen het nie.
"Die ryskoolgrond is toeganklik, dienste is reeds beskikbaar, dit val binne die stadsgrens en daar is reeds 'n aanliggende skool," sê die vroue.
Die beplanningsdepartement het egter te kenne gegee dat die grond nie beskikbaar was nie. Hulle het 'n paar ander opsies oorweeg wat die departement voorgestel het, maar nie een was prakties geskik nie.
In Januarie vanjaar het 'n konsultant, wat namens die twee ma's optree, weer die beplanningsdepartement gaan sien.
"Ons was baie opgewonde toe ons hoor dat die ryskoolgrond wel intussen beskikbaar geraak het en dit was ook die nommer 1 onder die opsies wat die departement toe aan ons voorgestel het. Hoewel die munisipaliteit nie gevra het vir enige planne nie, het ons argitek dadelik aan die werk gespring om 'n terreinontwikkelingsplan voor te berei wat later saam met 'n volledige prospectus aan vier senior amptenare van die departement voorgelê is.
"Tydens hierdie vergadering het ons onder die indruk gekom dat hulle baie positief was oor ons voorstelle."
Twee weke later is die twee vroue egter per e-pos in kennis gestel dat die ryskoolgrond nie beskikbaar is nie aangesien beplanning vir die perseel en aanliggende gebiede nog nie gedoen is nie; dit sou eers in 2025 'n aanvang neem.
"Ná ons ervaring tydens die voorlegging het hierdie antwoord nie vir ons sin gemaak nie, maar ons kon daarna nie meer duidelikheid kry nie. Ons het later verneem dat ons voorstel eers met die provinsiale onderwysminister bespreek sal word, waarna die munisipaliteit terugvoer sal gee. Ons voel die beplanningsdepartement het ons onnodig op 'n dwaalspoor laat beland met die manier waarop hulle die saak hanteer het," vertel die vroue.
'Skool waar kinders hul waardes kan uitleef'
"Ons het die gerug gehoor dat ons gesien word as eksklusief en dat ons sekere demografiese groepe uitsluit, maar die totale gemeenskap word in ag geneem in ons voorstel. Meer as 65% van George se bevolking is Afrikaanssprekend. Die meeste privaat skole in George is Engels. Al wat ons wil doen is om 'n skool op te rig waar ons en ons kinders ons waardes kan uitleef.
"Plaaslike gemeenskappe in 'n wyer sin sal ook voordeel trek uit gedeelde fasiliteite, beursprogramme en werkskepping, en addisionele spasie sal daardeur geskep word in huidige skole. Ons sou verder ook in ag geneem het hoe ons die huidige huurders op die grond kon akkommodeer totdat hulle 'n alternatiewe spasie kon kry.
"Ons aanvaar dat die onderwysdepartement op 'n sekere stadium betrokke moet wees, maar is nie oortuig dat hulle betrokkenheid op hierdie vroeë stadium nodig is nie," sê die vroue.
Agt hektaar
Die vroue benodig agt hektaar. 'n Koshuis en sportterrein is ook deel van hulle visie. 'n Belegger is gereed om in die projek te belê en hulle wou die skool reeds in 2025 geopen het.
"Die Wes-Kaapse departement van onderwys het tydens die Eden en Sentraal-Karoo-distrik se indaba in 2020 besluit dat 'n skool spesifiek in die Kraaibosch-gebied gevestig moet word.
"Al wat ons van die munisipaliteit verwag het, was dat hulle vir ons opregte en eerlike leiding gee en moontlike opsies identifiseer. Ons moet nou van voor af begin," sê die ma's.
Munisipaliteit besluit volgende jaar oor ryskoolgrond
Lauren Waring, hoof van beplanning, sê dit is die munisipaliteit se prerogatief om te verseker dat openbare grond gebruik word tot voordeel van die hele gemeenskap.
Daarvoor moet beplannings- en lewensvatbaarheidstudies gedoen word. Die munisipaliteit is tans besig met 'n aantal beplanningsprosesse wat geprioritiseer is in ander dele van die dorp, en beplanning rondom die ryskoolperseel sal eers volgende jaar begin.
"Die voorkeurgebruik van die hierdie terrein moet nog bepaal word. Daar is ook tans ander gebruikers op die grond en hulle behoeftes moet ook in ag geneem word."
Volgens Waring moet die onderwys-behoeftes van die totale gemeenskap in ag geneem word. "Dit mag wees dat 'n skool vir hierdie perseel geïdentifiseer is, maar of dit 'n slegs Afrikaanse skool moet wees wat vir 'n sekere demografie voorsiening maak, moet opgeweeg word."
Sy sê onderwys is 'n provinsiale funksie en derhalwe moet die onderwysdepartement help om die ligging van die fasiliteite te bepaal en vir wie dit voorsiening moet maak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’