Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die reuse-akkerboom op 'n sypaadjie in Fernridge, in Derdelaan, het 'n spesiale betekenis vir die Louw-familie wat oor Paasnaweek 'n groot familiereünie gehou het. Dit is hier waar Phillip en Maria (néé Botha) Louw in 1926 'n erf van amper 10 000m² gekoop het.
Skuins oorkant die Louw-egpaar se huis, in Tweedelaan, is die ouerhuis van die oud-kabinetsminister, Chris Heunis.
Die Louw-egpaar het 11 kinders gehad, en vier aangenome kinders grootgemaak. Hul nasate is landwyd en in ander wêrelddele versprei. Altesaam 43 kleinkinders, 86 agter-kleinkinders, 33 agter-agter-kleinkinders en een agter-agter-agter-kleinkind vorm deel van die Louw-stamboom.
Sowat 80 familielede het verlede naweek 'n fees van 'n tyd by Pine Lake Marina op Swartvlei gehad. Staaltjies is uitgeruil, almal het lekker geëet en gekuier, maar daar is ook 'n paar trane gestort.
Oupa Phillip se groentetuine, vrugtebome, visserskuite en byekorwe word deur sy afstammelinge goed onthou. Die oudste kleinseun, Timothy Heynes, beskryf sy oupa as 'n vermoënde man wat eintlik 'n skoenmaker van beroep was, maar tog etlike besighede bedryf het.
Kuiergaste was daar gereeld by die huis, waaronder die beroemde krieketspeler, Basil D'Oliveira, wat weens sy ras en die destydse landsbeleid nie vir 'n Suid-Afrikaanse span kon speel nie. D'Oliveira het later jare Engeland as sportman verteenwoordig.
Kyk 'n video hieronder:
Met die Wet op Groepsgebiede van 1950 moes die Louw-egpaar noodgedwonge hul huis in Fernridge verkoop. In 1965 het Phillip en Maria Louw na bykans 40 jaar se verblyf in George, na Kaapstad verhuis. Volgens Heynes het die verkoop van hul huis sy oupa so erg geaffekteer dat hy geweier het om 'n eiendom in Blanco, wat hom aangebied is, te koop.
"Hy wou weg, ver weg, en het 'n huis in Lotusrivier in Kaapstad gekoop."
Phillip Louw het op amper 70-jarige ouderdom weer begin om 'n groentetuin op die Kaapse vlakte aan te lê. Maria Louw se gesondheid het egter verswak en sy is op 67 jaar oorlede, slegs drie en 'n halwe jare nadat hulle Kaapstad toe getrek het. Oupa Phillip is eers op 27 Februarie 1983, op die rype ouderdom van 87 jaar, oorlede.
Vier van Phillip en Maria Louw se seuns, Mann, Nick, Flip en Sam (Baby) het destyds as drukkers by die George & Knysna Herald gewerk. Vandag is een van hul kleinkinders, Bevin Louw (seun van Nick), steeds werksaam by die George Herald.
Lede van die Louw-familie by die groot akkerboom in Derdelaan, voor die erf wat destyds behoort het aan Phillip en Maria Louw. Foto: Michelle Pienaar
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'