Die Uitvoerende Burgermeester van George, Charles Standers het benadruk dat George “oor voldoende talentvolle kunstenaars en stalletjie-eienaars beskik om ‘n suksesvolle fees uit sy eie mense vir sy eie mense te kan aanbied.” Oudisie-geleenthede was oor die afgelope twee jaar vir kunstenaars in al die gemeenskappe gehou om vars talent vir optredes op die feesverhoog te identifiseer. Vanjaar word daar nie weer oudisies gehou nie en word die program saamgestel uit die beste optredes van die afgelope twee Liggiefeeste.
Die fees vind soos gebruiklik by Eenheidspark aan die bopunt van Yorkstraat plaas. ‘n Verskeidenheid stalletjies, vermaak en optredes vir die hele gesin sal vanaf 14:00 tot 22:00 op die feesterrein aangebied word.
Gedurende die aandprogram sal besoekers vermaak word deur volwasse en professionele kunstenaars.
Hy maan ook motoriste en besighede wat deur die straatsluitings geraak word, om geduldig te wees en aflewerings vooraf te reël, of alternatiewe roetes te gebruik. Die boonste deel van Yorkstraat tussen Courtenay- en Hiberniastraat sal gesluit wees vanaf 10:00 Saterdagoggend tot 01:00 Sondagoggend. Die roetes wat motoriste kan volg word op die padkaart hiernaas aangedui.
Na afloop van die Burgemeesterstrofee Rugby 7’s sal die Pacaltsdorp-blaasorkes ‘n feestelike optog vir rugby-ondersteuners en lede van die publiek begelei vanaf Outeniquapark, met Langenhovenweg af tot by Eenheidspark om by die Liggiefees aan te sluit.
Stalletjies aan die weerskante van Yorkstraat sal eet- en drinkgoed verkoop. Die fees is ook ‘n goeie geleentheid om kersgeskenke en items vir die kersboom teen billike pryse te koop.
