GEORGE NUUS - Die liggaam van 'n vrou, wat verlede maand naby Groothoek in Pacaltsdorp gevind is, is positief uitgeken as die vermiste Rachele Levendal (33).
Rachele is op 23 Desember verlede jaar as vermis aangemeld. Sy is die oggend van haar verdwyning op die Hansmoeskraalpad gesien waar sy alleen in die rigting van Groothoek geloop het.
Haar liggaam is op 28 Februarie onder by die see naby Groothoek tussen die rotse gevind.
Volgens die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, is die liggaam uitgeken deur vingerafdrukke wat verkry is.
"'n Geregtelike doodsonder-soek is vir verdere ondersoek geopen aangesien geen misdaad vermoed word nie. Die ondersoekbeampte het verlede Donderdag, 1 April, die uitslag van die vingerafdrukke vanaf die plaaslike rekordsentrum ontvang," sê Pojie.
Andries Levendal, Rachele se pa, het die gemeenskap, Rachele se vriende en die polisie bedank vir hul hulp in die soektog na sy dogter en hul gebede vir die familie.
Hy het Rachele as sy staatmaker en steunpilaar beskryf. "Ons weet nou nog nie wat presies gebeur het nie, hoekom sy daai oggend geloop het nie, maar ek dank God dat haar oorskot gevind is, sodat ons haar ter ruste kan lê en ons as familie afsluiting kan kry. Dit is vir ons baie traumaties, die onsekerheid wat ons deur is terwyl ons na haar gesoek het, was erg.
"Sy was 'n stil kind en was nie lief vir rondloop nie, behalwe na vriende. Ek gaan haar verskriklik baie mis," het Levendal gesê.
Rachele laat haar pa, een suster en twee broers agter. Sy word Saterdag 10 April om 10:00 uit die Lutherse kerk in Pacaltsdorp begrawe.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'