GEORGE NUUS - Die ma van 'n 18-jarige vrou is steeds in skok ná haar dogter se liggaam verlede Vrydag, 3 Maart, in 'n oop veld in Pacaltsdorp gevind is.
Volgens Marissa Squire van Rosestraat het sy haar dogter Zaynick die laaste keer gesien toe hulle die vorige Sondag van die kerk af teruggekom het.
"Sy was saam met 'n vriend by ons huis. Mense het haar Maandagaand gesien en dit was die laaste," vertel Squire.
Zaynick se liggaam is omstreeks 10:15 deur 'n verbyganger in Crescentlaan gevind. Haar ma het Dinsdagoggend (7 Maart) haar liggaam gaan uitken.
"Ek kan nie verstaan dat iemand so iets aan my kind sal doen nie. Sy het niemand skade gedoen nie. Sy was 'n liefdevolle mens en het nog haar hele lewe voor haar gehad. Sy het my so trots gemaak en nooit enige probleme gegee nie," vertel haar ma.
Volgens onbevestigde inligting was haar liggaam reeds besig om te ontbind toe sy gevind is.
Die Pacaltsdorp-polisie het 'n geregtelike doodsondersoek geopen ná Zaynick se liggaam gevind is. Volgens Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, word die uitslae van die nadoodse ondersoek afgewag.
"Die ondersoek is op Maandag 6 Maart gedoen. Die uitslag van die verslag sal die ondersoek lei," sê Spies.
Enigiemand met inligting wat die polisie kan help met hul ondersoek kan die ondersoekbeampte, ao. Cindy Horne by 044 803 9106 te kontak.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'