Gallery
GEORGE NUUS - 'n Eksklusiewe wynveiling uit die boonste rakke was op die spyskaart vir Laerskool George-Suid se eerste Stellar101-glansaand wat onlangs by die plaaslike restaurant 101Meade, gehou is.
Met die naam van hierdie geleentheid – Stellar101 – word Stella Louwrens, die skool se eerste skoolhoof in 1966 vereer, terwyl dit terselfdertyd verwys na LGS se ingesteldheid om na die hoogste ster te reik met kwaliteit onderrig, onderwysers en leerders.
In totaal het die skool R110 000 ingesamel. Alle gelde wat ingesamel is sal tot voordeel van die kinders en ouers van LGS aangewend word.
Een van die items op die veiling wat koppe laat draai het is 'n juweelstuk, 'Suiderkruis', van sterlingsilwer, blou topaasstene en 'n diamant, wat spesiaal vir die geleentheid deur Drikus Bezuidenhout van Studio925 ontwerp is. Die item het R5 500 op die veiling behaal. Die afslaer Frederik Bekker, het gesorg vir 'n energieke veiling.
Fotogalery: Stellar101-glansaand iets besonders
Cape Saint Blaize het jenewer (gin) vir die aand verskaf en 'n jenewerervaring as 'n lot vir die veiling, terwyl Jakkalsvlei se wyne elke gang afgerond het. Ander landgoedere wat verteenwoordig was sluit in Neil Ellis, Muratie Estate, Simonsig, Alto Wine Estate, Beeslaer, Tokara, Dewald Heyns, Heroldwyne en Kanonkop.
Serendipity-gastehuis in Wilderness het 'n aand se verblyf met 'n aandete vir twee vir die veiling aangebied.
Weens beperkte spasie is slegs 'n handjie vol van George se gemeenskap genooi, maar dit het die aand baie intiem en spesiaal gemaak.
"Hierdie geselligheid was werklik spesiaal en iets om na uit te sien in die jare wat kom. Dit is die eerste van vele. Die skool is opreg dankbaar aan almal wat die geleentheid ondersteun het," het skoolhoof Sas du Plessis gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'