GEORGE NUUS - Om 'n geliefde aan die dood af te staan, is 'n traumatiese gebeurtenis, maar wanneer dit in omstandighede gebeur waar kontak tussen mense tot 'n minimum beperk is, is die afsondering 'n faktor wat mense selfs dieper in die put van pyn kan laat wegsink.
"Almal sit by hulle eie huise. 'n Familie kan nie bymekaarkom om mekaar te ondersteun en die skok bietjie te versag nie. Daar is in baie gevalle nie 'n begrafnis om afskeid te neem nie.
"Al hierdie dinge wat Covid-19 meegebring het, dra by tot die vrees en pyn wat mense ervaar wanneer 'n persoon naby aan hulle sterf," sê Marina Tiger, 'n afgetrede maatskaplike werker.
Tiger is deur Alice Johnson, wat 'n paar familielede weens Covid verloor het, genader en so is besluit om 'n ondersteuningsgroep te begin waar sulke mense hulp kon kry.
Die eerste byeenkoms het maar onlangs - in Maart - plaasgevind, maar reeds is daar mense wat kan getuig van die verligting wat dit bring.
Covid het Johnson se man, Awie en nog vyf ander lede van dieselfde familie binne drie maande geëis. Johnson het self siek geraak weens die virus terwyl haar man in die hospitaal gelê het. Die afsondering onder hierdie omstandighede was vreesaanjaend.
"Ek kan die seer nie verduidelik nie. Ek het by die Here se voete gelê om my deur die nag te dra. Maar te midde van die hartseer, is familiebande versterk. En toe kom hierdie groep waar ek ook ongelooflike ondersteuning kom vind het. Hier kan jy maar kom huil en praat oor jou pyn. Ons is almal in dieselfde bootjie."
Van die ander mense wat geliefdes weens Covid verloor het, is Johannes Bekeer (sy vrou van 27 jaar), Linda Cherry (haar dogter, wie se tweeling nou swaar steun op haar en haar man), Theriska de Bruin (haar lewensmaat), Hester Eland (haar man) en Felicia October (haar ma).
Die groep se deur is oop vir alle persone wat 'n geliefde aan die dood afgestaan het, nie net dié wat iemand weens Covid-19 verloor het nie. Vroue wie se mans hulle weens ander oorsake ontval het en wat ook baat vind by die groep, is Ivy da Silva en Maureen Meas.
Twee professionele beraders woon ook die byeenkomste by: Jan Houtman, 'n spesialis-welstandsberader, en Anne Maarman, 'n geestelike berader, albei van Bethesda.
Susan Rhode help ook deur geestelike ondersteuning en gebed.
Die leraar van die Pacaltsdorp AGS-kerk waar die groep vergader, pastoor Alan Spies, en sy vrou Rene verleen ook geweldig baie insette. Die kerk is gratis beskikbaar vir die groep se byeenkomste. Hulle vergader weekliks en mense van enige denominasie is welkom.
Vir meer inligting, bel Marina Tiger by 079 517 2011.
Die vergadertye vir die res van Mei is soos volg: Saterdag 15 Mei, Vrydag 21 Mei en Saterdag 29 Mei. Op Vrydae is die byeenkoms om 11:00 en op Saterdae om 14:00.
Foto: Alida de Beer
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'