Update
GEORGE NUUS - Die vier mans wat van die 2017-moord op Graham Fielies (37) van New Dawnpark skuldig bevind is, is Donderdagoggend, 18 November, in die George-streekhof gevonnis.
Uitspraak is in Augustus vanjaar gelewer toe die beskuldigdes op aanklag van moord met voorbedagte rade skuldig bevind is.
Johannes Boesak, Ryno Joubert, Hayworth Botha en Daniel Bruiners is elk deur landdros Emma Moloro tot lewenslange tronkstraf gevonnis.
Fielies is Vrydagmiddag, 1 Desember 2017, omstreeks 14:00 deur 'n groep mans in 'n lokval gelei waarna hy aangerand is. Hy het later die aand in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Daardie betrokke naweek is nog twee mense in die Pacaltsdorp-omgewing wreed vermoor en twee ernstig beseer in afsonderlike voorvalle.
In Thembalethu was daar ook drie afsonderlike moordtonele daardie naweek.
Fielies se moord is glo voorafgegaan deur 'n bendeverwante voorval waartydens een van die verdagtes se vinger met 'n panga afgekap is. Daar is ook sprake dat hy en sy aanvallers oor gebiedsreg gestry het.
Die vier veroordeeldes se aansoek om verlof tot appèl sal op 10 Desember aangehoor word. Hulle is deur Winston Jansen van Jansen & Samson Attorneys verteenwoordig en Candice Simon was vir die staat.
LEES MEER: Uitspraak in Rosedale-moordsaak
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'