GEORGE NUUS - Sommer Net Ons ATKV-tak sal op 9 Junie in samewerking met Eagle Kidz van die Eagle's Nest Ministries-gemeente in Pacaltsdorp 'n leesmarathon aanbied vir kinders van gr. RR tot gr. 7.
"Die Sommer Net Ons ATKV-tak het 'n geleentheid geïdentifiseer om 'n liefde vir lees onder die kinders van Pacaltsdorp aan te moedig. Ons glo dat kinders wat goed lees die selfvertroue het om goed te leer en sodoende goed te presteer," sê die koördineerder, Beverley Mckelly.
"Eagle Kidz se visie is om verantwoordelike leiers te kweek en die slagspreuk van die leesmarathon 'Word 'n reus en lees', is in lyn met hierdie visie." Die kortverhale wat gelees gaan word, se temas sal handel oor die verantwoordelikheid wat die mens het om die omgewing te bewaar, 'n omgee gesindheid teenoor jou medemens te hê en om goeie rentmeesterskap teenoor eiendom te beoefen.
Die doel van die leesmarathon is om 'n liefde vir lees aan te moedig, leesvaardighede oor te dra en kinders se selfvertroue te bou. Elke deelnemer ontvang 'n sertifikaat vir deelname.
Verversings sal bedien word. Die marathon begin om 09:00 by Eagle's Nest Ministries in Olympiaweg. As jy wil deelneem of meer inligting verlang, bel Mercy by 062 373 5729.
Toegang is gratis. Die geleentheid word moontlik gemaak deur donasies van die ATKV, Eagle's Nest Ministries, Blaauw Products, Kairos Foods & Services, George-munisipaliteit en Cappuccinos Restaurant.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'