GEORGE NUUS - Die opgewonde gesigsuitdrukkings van 'n groep rugbyspelers van Heidedal Primêr Vrydagmiddag, 20 Mei, het alles vertel.
Danksy Andy Jacobs en Michelle Valentine van Intercape kon hulle met 'n luukse bus van die skoolterrein na Outeniquapark ry om die wedstryd tussen die SWD Arende en die Zimbabwe Goshawks te gaan bywoon. Valentine is 'n oudleerling van die skool.
Kort nadat die skool vir die dag se aktiwiteite verdaag het, het die sowat 47 spelers van die skool se o. 11- en o. 13-spanne aangetree en vertrek om na die wedstryd in die eerste divisie van die Curriebekerreeks te gaan kyk. Die meeste van die kinders wou net bo in die bus sit.
Jerome Syfers, onderwyser by die skool, het Maandag gesê vir die meerderheid van die kinders was dit 'n eerste om in so 'n luukse bus te ry.
"Die terugvoering wat ons van die leerlinge gekry het was dat hulle baie opgewonde was en dit geniet het. Dit het baie vir hulle beteken."
So baie het hulle dit geniet dat hulle na afloop van die geleentheid net wou weet wanneer gaan hulle weer so 'n kans kry. Die leerlinge het die wedstryd ook baie geniet. Rugby is 'n groot sport by die skool.
Volgens Syfers bring so 'n geleentheid ander insigte. "Die leerlinge kon twee gedugte spanne teen mekaar sien speel. Dit was ook 'n leersituasie vir hulle en dit het gewys dat drome waar kan word."
Jacobs het gesê hulle doen dit graag. Dis 'n geleentheid om iets terug te ploeg in die gemeenskap.
Van die leerlinge staan Vrydagmiddag reg om te vertrek.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'