Die Swop Shop-projek is 'n inisiatief van die Pêrel-projek wat in 2012 as 'n uitreikaksie begin het met naaldwerk- en breiprojekte om werksgeleenthede vir die vroue in die gemeenskap te skep.
Die Swop Shop-projek gaan tans slegs by Kretzenshoop inwerking gestel word, en sal vanuit 'n vraghouer op die skoolterrein bedryf word. Die projek gaan nie net die leerders oor die belangrikheid van herwinning leer nie, maar ook hoe om die gemeenskap skoon te hou en te bewaar.
Leerders wat weens hul omstandighede by die huis nie noodsaaklike items kan bekostig nie, kan nou deur middel van die projek, alle benodigdhede aanskaf, sonder om enige geld daarvoor te betaal.
Volgens die organiseerder van die projek, Anette Erlank, kan leerders skoon herwinbare materiaal by die vraghouer inhandig. Hulle kry dan punte inruil vir die gewig van hul sak rommel.
"Met die punte kan leerders in die groen Swop Shop-vraghouer, skoolartikels, speelgoed, kleure, skoene en sanitêre ware 'koop'," het Erlank gesê.
Leerders wat nie onmiddellik hul punte vir items wil omruil nie, het die opsie om die punte te spaar sodat hulle dit op 'n latere stadium vir iets groters kan omruil - dit leer dus die leerders ook hoe om te spaar.
Nadat ongeveer 200 leerders verlede week in 'n lang ry gestaan het om hul rommel in te handig, is die voorraad aansienlik minder en word donasies van die gemeenskap verlang om die projek, wat van skenkings afhanklik is, aan die gang te hou.
Die gemeenskap word ook uitgenooi om op 'n Woensdagmiddag tussen 14:00 en 16:00, wanneer die rommel ingeneem word, hand by te sit.
Vir meer besonderhede oor die projek of om 'n donasie te maak, skakel vir Erlank by 084 549 0489 of Theo McDonald by 083 749 1439.
Daar word rekord gehou van al die leerders wat rommel inhandig, deur 'n kaartjie wat hulle kry na die eerste sak rommel wat hulle ingee. Elke sak rommel wat ingehandig word, word ook geweeg sodat daar punte daarvoor toegeken kan word. Annette Erlank, die organiseerder van die Swop Shop-projek (in die middel), weeg een van die sakke rommel.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'