ARTIKEL AANGEPAS OP 29 APRIL: Die WKOD het op 27 April bevestig dat verslae oor die voorval daarop dui dat dit 'n ongeluk was.
GEORGE NUUS - 'n Leerder van Hibernia Primêr is vandag in die hospitaal opgeneem nadat 'n voertuig op die skoolgronde oor hom gery het.
Volgens 'n betroubare bron het 'n mede-leerder die seun gestoot en het hy in die pad geval waar die voertuig ingery gekom het.
Dit was op 'n steil bult in die pad en die bestuurder kon die kind nie sien lê nie. Die wiele van die voertuig het nie oor die seun gery nie, maar 'n omstander het blykbaar gesien dat hy, moontlik van skrik, onder die voertuig begin regop kom het.
Hy is per ambulans na die hospitaal geneem. Die bron sê dit was moontlik dat die onderstel van die voertuig die seun kon geraak het. Die voorval het nie op die konstruksieterrein plaasgevind waar tydelike klaskamers tans vir die skool opgerig word nie.
'n Navraag is aan die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gestuur. Meer inligting volg soos dit bekend word.
Artikel aangepas: Bronagh Hammond, die WKOD se hoof van kommunikasie, het bevestig dat daar 'n ongeluk was waarby 'n voertuig van die konstruksiemaatskappy wat by die skool werk, betrokke was, maar sy het gesê die besonderhede moet nog bevestig word.
"Ons kan gelukkig bevestig dat die leerder geen ernstige beserings opgedoen het nie. Hy is na 'n plaaslike gesondheidsfasiliteit geneem en doen na verneem word goed." Daar is intussen ook verneem dat die seun vandag (14 April) 'n telefoongesprek met sy klasmaats gehad het.
Na aanleiding van Facebook-kommentare oor die voorval, het daar nuwe inligting na vore gekom, naamlik dat die beseerde seun na bewering tydens 'n spelery geval het en die leerder met wie hy gespeel het, wou hom blykbaar help om weer op te staan. Die voertuig het by die hek ingery terwyl die seun op die grond gelê het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’