GEORGE NUUS - Daar is daagliks mense rondom ons wat deur ‘n moeilike tyd gaan. Soms kan ons dit raaksien, maar voel so magteloos en dan weet ons nie wat om te doen nie.
Ons wil graag help en ‘n verskil maak, maar weet nie hoe nie.
Ons weet ook nie altyd waarheen om mense te verwys om die regte hulp te ontvang nie.
Miskien is jy iemand wat graag na ander wil luister en voel jy dat jy graag meer wil uitreik na jou gemeenskap. Miskien voel jy dat jy alreeds berading doen, maar nie seker is of jy dit op die regte manier doen nie.
Wanneer mense deur trauma gaan, is daar pertinente dinge wat jy nie moet doen of sê nie en weer ander dinge wat moet gebeur.
Families SA (Famsa) Outeniqua bied jaarliks ‘n basiese beradingskursus aan, juis om mense te help om ander te help.
Enige persoon bo 18 jaar is welkom om hierdie opleiding by te woon. Geen opleiding of vorige ervaring is nodig nie.
Hierdie opleiding strek oor agt vol dae wat opgedeel word in twee dele van vier dae elk.
Die datums vir opleiding is: 16 tot 19 April en 21 tot 24 Mei.
Kostes vir hierdie opleiding beloop R500 per dag. Inskrywings is oop en daar is slegs beperkte spasie beskikbaar.
Vir meer inligting skakel Famsa by 044 874 5811 of stuur 'n e-pos na george@famsa.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’