GEORGE NUUS - Die Early Act-klub by Laerskool Outeniqua se mees onlangse gemeenskapsprojek was 'n besoek aan die Môreson Kinder- en Jeugsorgsentrum waar hulle met 'n voorraad heerlike vrugte opgedaag het en met die voorskoolse kinders gespeel het.
Early Act word by laerskole deur die internasionale Rotariër-diensorganisasie ondersteun om geleenthede aan jong leerders te verskaf om aktiewe burgers te wees.
"Ons kom al ‘n lang pad met die kinders van Môreson. Ons wou graag weer iets spesiaals vir die kinders doen," sê Danielle Barnard, onderwyser en Early Act-koördineerder by Laerskool Outeniqua.
Môreson is in 1917 al gevestig. Hulle verskaf tans sorg vir sowat 100 kinders tussen die ouderdomme van drie en 18 jaar.
Kinders word deur 'n hofbevel verwys en kom uit agtergronde van fisiese of emosionele mishandeling of verwaarlosing.
Die kinders word aan agt huise op die perseel toegedeel na gelang van hul ontwikkelingsfases. ‘n Multi-dissiplinêre span fokus op die fisieke, emosionele, sosiale en onderwysbehoeftes van elke kind.
Charles Rowe, president van die George Rotariërs, sê hulle is trots om met die Outeniqua Early Act-leerders geassosieer te word.
"Hulle inisiatiewe verpersoonlik die leierskap, empatie en gemeenskapsbetrokkenheid wat ons land baie nodig het."
Môreson benodig vrywilligers asook sportbenodigdhede en -klere vir kinders wat gereeld aan sportwedstryde deelneem.
Mense wat graag wil help, kan die programkoördineerder, Adri Quiens, kontak by 078 011 3042.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’