GEORGE NUUS - Laerskool George-Suid het kragte met die DreamBig Company saamgesnoer en 'n pasmaak koeponboekie vir die George-gemeenskap saamgestel. Die projek is 'Droom Groot' gedoop en die boekie bevat afslagbewyse wat die gebruiker in staat stel om alles van wegneemetes tot familie-uitstappies in die George omgewing te geniet.
Altesaam 24 plaaslike besighede neem aan die projek deel en die skool is tans die enigste verspreider van die boekie in die Suid-Kaap.
"Laerskool George-Suid skep graag geleenthede waar elke leerder sy of haar unieke talent of vermoë kan ontwikkel. Al die fondse wat uit die projek voortspruit word teruggeploeg in ons leerders en die uitbreiding van die hulpbronne wat daarvoor benodig word. Terselfdertyd ondersteun die projek plaaslike besighede, wat ons as gemeenskapskool na aan die hart lê. Dit beteken 'n gesonder ekonomie en gevolglik 'n gesonder George," sê die skoolhoof, Sas du Plessis.
Kopers van die Droom Groot-boekie ontvang ongelooflike waarde vir hul geld. R200 koopafslagbewyse van meer as R2 500 en kan gebruik word tot einde Augustus 2019. Koop vandag nog joune en trek voordeel uit die opwindende projek!
Enige navrae kan gerig word aan die skool by 044 873 3464.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'