GEORGE NUUS - Die skokkende toestand van twee begraafplase in George, in Memorium, en Yorkstraat - het vandeesweek onder die loep gekom.
George-munisipaliteit moet voortdurend 'n ogie oor die twee areas hou wat gereeld die teiken is van vandale, dwelmslawe, haweloses en bendes.
Aubrey Aspeling, 'n lid van die gemeenskaps-polisiëringsforum vir George-Suid, het Maandag met groot lof oor die werk wat die munisipaliteit by die begraafplaas in Memoriumstraat verrig het, gepraat, na sy aanvanklike skok oor die toestand van dié begraafplaas verlede week.
"Ek het my ma se graf gesoek en was geskok oor wat ek daar gesien het," het hy vroeër gesê.
"Die draad was afgetrap, ons het 'n naald met vloeistof - moontlik heroïen - gevind, die bome moet gesnoei word, die grafte is oorgroei met gras en onkruid, die plek is vol vullis en haweloses en bendes skop nes om die grafte. Daar word letterlik vuur gemaak en ontlas óp die grafte." Die munisipaliteit het intussen kom skoonmaak en nou lyk dinge weer netjies.Hierdie area van Yorkstraat-begraafplaas was Sondag 6 Maart toe onder die gras en onkruid.
By Yorkstraat se begraafplaas lê daar nog baie werk voor. Rika Bouwer het haar niggie se kind Sondag geneem om sy ma se graf te besoek. "Ons sal seker voortaan elke naweek hierheen kom. Al is dit net om 'n bietjie met haar [die oorledene] te gesels," het Bouwer gesê. "Die probleem is 'n mens voel onveilig. Die grafte is oorgroei en die plek is vuil. My ma het nog gespot en gesê sy sal nooit eendag hier tot ruste kan kom nie, want sy sal die hele nag skoonmaak."
Volgens die direkteur van gemeenskapsdienste, Allan Paulse, word die Yorkstraat-begraafplaas op rotasiebasis in seksies skoongemaak: "Die gras word gesny en met onkruiddoder gespuit om die groei vir 'n tydperk van drie maande te inhibeer. 'n Toegewyde span van ses amptenare werk op al vier begraafplase, sowel as toegegroeide munisipale erwe. Rommel word elke Vrydag opgetel."
Memoriumstraat-begraafplaas word deur haweloses as oornagplek benut. Die foto is verlede week geneem voor die munisipaliteit kom skoonmaak het.
Planne vir nuwe heining
Die direktoraat vir gemeenskapsdienste het 'n kapitaal-projek beplan vir die opgra-dering van die heining by Memoriumstraat-begraafplaas in die 2022/23 finansiële jaar. "Intussen is 'n span ontplooi om die bestaande heining reg te maak en voortdurende monitering deur wetstoepassing en Anti Land Invasion sal voortgaan om die situasie te bestuur," het Paulse gesê.
Volgens Paulse word die heining by die Memoriumstraat-begraafplaas voortdurend deur rondlopers gevandaliseer om toegang te verkry. "Ongelukkig is grafstene beskadig as gevolg van vure wat gemaak word. Instandhouding en die versameling van rommel word daagliks deur die begraafplaasspan onderneem, maar dit bly 'n konstante probleem ten spyte van ingrypings deur wetstoepassing op 'n daaglikse basis."
'n Spuitnaald met 'n onbekende stof is verlede week in Memoriumstraat-begraafplaas gevind.
'n Ou vuurmaakplek op 'n beskadigde graf in Memorium-straat-begraafplaas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'