GEORGE NUUS - 'n Talentvolle sangeres van Parkdene wat verlede jaar 'n tros goue medaljes by Sacopa (Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir uitvoerende kunste) se nasionale kampioenskappe in Rustenburg ingepalm het, is nou kliphard op soek na borge vir haar internasionale deelname.
Dorothy Maggerman is gekies om einde Junie in Los Angeles aan die wêreldkampioenskappe vir uitvoerende kunste deel te neem.
'n Allemintige R120 000 word egter benodig om hierdie droom te bewaarheid.
Die bedrag sluit in verblyf, reiskostes, etes, verpligte klere en ander benodigdhede vir hierdie ervaring. Teen einde Maart vanjaar is 'n bedrag van bykans R30 000 betaalbaar as administrasiefooi vir die geleentheid om aan drie items deel te neem.
Met haar deelname aan die nasionale kampioenskappe het sy ses liedere in verskillende genres gesing, onder meer gospel, jazz, RnB, pop en rock. Sy het die "Overall Trophy Award" gewen, vier goue en twee silwer medaljes vir die ouderdomsgroep 30 plus.
"Ek leef my droom," het Maggerman gesê. "As jy dit kan droom kan jy dit doen. Dit is my leuse!"
Vir hulp met borgskap, kontak Maggerman by 076 477 6901 of stuur 'n e-pos na dorothyvw1982@gmail.com.
Divas
Behalwe vir haar individuele optredes het Maggerman tydens die nasionale kompetisie saam met twee ander sangeresse in een sangitem as die Dynamite Divas opgetree - Wendy de Vos, ook van George, en Aranchia Fortuin van Sedgefield.
Beide De Vos en Fortuin is ook gekies om hul land in LA te verteenwoordig, in hul individuele hoedanigheid. De Vos het 'n goue, 'n silwer en brons medalje verower en Fortuin het een silwer en drie brons medaljes ontvang.
Volgens Maggerman het die item wat hulle saam gesing het nie pryse gewen nie, maar die sangers het elkeen met hul eie optredes baie goed gevaar.
"Op die ou end is finansies altyd 'n kwessie," het Maggerman gesê. "Ek kon gelukkig die eerste spertyd nakom vir die aanvanklike bedrag om 'n plek te verseker. Nou moet ons vorentoe beur vir die res. Ek sien myself dáár."
Wendy de Vos van George het baie goed gevaar tydens die nasionale kompetisie van Sacopa.
Aranchia Fortuin van Sedgefield met haar medaljes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’