GEORGE NUUS - 'n Bewys dat harde werk beloon word, is Vrydag 20 Januarie by Hoërskool Heatherlands gesien.
Toe die matriekklas van 2022 se uitslae bekendgemaak is, is daar breed geglimlag, want die slaagsyfer was 97,8%.
Dis 'n verbetering van 40% in vergelyking met die vorige jaar en die beste in die skool se geskiedenis. Dis die derde beste van alle openbare skole in George.
Die man wat aan die stuur van sake by die skool is, Salomo Moses, wou geen erkenning hê nie. Toe hy Dinsdag om kommentaar genader is, was sy boodskap dit gaan nie oor hom nie. "Hier bou ek aan spanwerk."
Vrydag met die bekendmaking van die uitslae het hy darem die sluier gelig oor die rede vir die skool se sukses. Hy het gesê die skool is in die wolke. "Ons is geseën met 'n span wat hard gewerk het. Dag en nag. Maandae tot Maandae."
Dit het alles al vroeg verlede jaar begin. 'n Tema, “Transformasie is die sleutel tot sukses" is gekies. Elke Vrydag is motiveringsessies met die matrieks met die hulp van Anthony Noble gehou. Daar is nougeset by die tema gehou. Tussenin is ander sessies ook gehou.
Volgens hom het Elim AGS Kerk ook 'n rol gespeel. Hulle het toegelaat dat hul kerksaal gebruik word vir leerders wat van Blanco is. Die kerk het ook kos en vervoer verskaf.
Moses het benadruk dat die 45 matrieks wat die eindeksamen geskryf het gewillig was om te leer en hard te werk. Uiteindelik het 37,8% geslaag met universiteitstoelating en 35,6% vir toelating tot diploma studies op na-skoolse vlak.
"Ek is baie tevrede." Hy het dit beskryf as 'n groot, groot spanpoging.
Die skool se toppresteerder is Shante Jantjies. In die tweede plek is Leandre Lekay en gesamentlik derde is Ntombulelo Booysen en Thandokazi Mdewu.
Salomo Moses, hoof van Hoërskool Heatherlands en Anthony Noble, wat gehelp het met die motiveringspraatjies.
Die skool
Hoërskool Heatherlands in sy huidige formaat het sy deure in 2016 geopen. Daar is begin met onderrig vir gr. 8- en gr. 9- leerders. Die skool se eerste groep matrieks was in 2019.
Daar is koshuisleerders, maar die meeste is dagleerders en kom van omliggende gebiede soos Blanco en Geelhoutboom.
Salomo Moses, hoof van Hoërskool Heatherlands. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'