Gallery
GEORGE NUUS - Die kwiltuitstalling by die George-museum, wat Maandag 31 Julie geëindig het, het groot belangstelling gelok en het alle verwagtinge van die organiseerders oortref.
Dit is op 21 Julie deur Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, geopen. Die geleentheid is ook deur George-burgemeester, Leon van Wyk, bygewoon.
Met die sluiting Maandag, het reeds meer as 300 mense die uitstalling, onder die vaandel van die Outeniqua-kwiltersgilde, besoek.
Dit is laas in 2018 voor Covid aangebied. Die plan is om dit elke tweede jaar aan te bied.
Ina Meyer, voorsitter van die Outeniqua-kwiltersgilde, het Maandag kort voor die sluiting van die uitstalling gesê kwilt is die kuns van laslapwerk. Die werke wat uitgestal is was van lede van die kwiltersgilde. Die gilde het lede vanaf Plettenbergbaai, Mosselbaai selfs Oudtshoorn en De Rust.
Volgens haar is daar nege gildes landwyd waarvan Outeniqua een is met 137 lede.
Die gilde is in 1986 gestig en vergader elke twee maande in 'n melkskuur in Geelhoutboom. Gewoonlik is daar demonstrasies en 'n gasspreker. 'n Modeparade is ook al aangebied.
FOTOGALERY: Kwiltuitstalling by die George-museumDoreen Crause, lid van die Outeniqua-kwiltersgilde en Ina Meyer, voorsitter van die instansie by een van die werke wat by die George-musuem uitgestal is. Foto: Eugene Gunning
In die Outeniqua-streek is dit hoofsaaklik dames wat betrokke is, maar landwyd is daar ook mans betrokke. Gewoonlik is dit meestal ouer mense wat betrokke is, maar daar is jongmense wat ook hierdie kuns beoefen.
Die werke by die uitstalling was van uiters hoë gehalte en sal moontlik later in 2024 te sien wees by die nasionale geleentheid in Pietermaritzburg.
Volgens Meyer was hulle oorweldig deur die belangstelling en daar het selfs nuwe lede aangesluit.
Daar is mense wat dit professioneel doen terwyl ander dit as 'n tydver-dryf beoefen.
Meyer kom 'n lang pad met kwiltwerk. As kind was sy reeds lief vir naaldwerk en dit is juis hier waar alles begin het. Sy het meesterskwiltstatus.
Die volgende groot geleentheid is die Muse-fees op 22 en 23 September by die Metodistekerk in Groot-Brakrivier. Vir meer besonderhede kontak Meyer by 082 771 6957 skakel of 'n e-pos stuur na inameyer51@gmail.com.
Foto's: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’