Die tema van die fees was "Dankiesê" en die doel was om ou verbintenisse te versterk en nuwe verbintenisse te sluit. Die volgende groot fees is natuurlik die skool se eeufeesvieringe in 2023. Daar het oud-Kwaggas van heinde en ver gekom om aan die fees deel te neem.
Die week is Dinsdagaand met die "Kwalentaand" afgeskop. Die leerders van Outeniqua het aan verskeie items deelgeneem en die groep wat die talentaand gewen het, was drie dansers met die naam "AKA".
Woensdagoggend was daar 'n ontbyt vir sakemanne en -vroue. Braam van Huyssteen, 2011-wenner van Suider-Afrika se entrepreneurskap-kompetisie, was die gasspreker. Hy het ook sy getuienis gelewer en elke persoon wat daar was, het baie ryker daar uitgestap.
Donderdagoggend was een van die hoogtepunte van die fees. Daar was ’n buitengewone saalopening waar drie oud-Kwaggas erekleure ontvang het. Sydney Stopforth (SA Jukskei), dr. Louise Ferreira (bydrae tot verpleegkunde) en Laurie Claassen (stigter van die Rola-groep) het erekleure ontvang. Die oggend is verder gedenk met 'n pragtige opening deur ds. Abrie Botha (oud-Kwagga 1960) en 'n toespraak deur ds. Solly Ozrovech (1946 se hoofseun). Hoërskool Outeniqua was bevoorreg dat twee 90-jarige oud-Kwaggas, Jack Parsons (1939) en Jantjie Horn (1940), die saalbyeenkoms bygewoon het. Die oudskoolhoof, mnr. Tommy Smook en oudadjunkhoof, mnr. Flip de Swardt, het feesredes gelewer.
Twee besondere oudonderwysers en oud-Kwaggas, mev. Onni Brönn (1945) en mev. Anna du Toit (1946) was ook teenwoordig. Die skool se feeslied wat deur Greta Delport-Benade geskryf is, is ook vir die eerste keer amptelik gesing.
Die leerders het na die saalbyeenkoms die voorreg gehad om saam te sing en ook na verskeie kunstenaars soos Jackie van Solomons, Juan Appelgryn en Anton Gemmer te luister. "AKA" het ook die leerders met hulle passies vermaak.
Die 50 registerklasse het voluit feeskoeke gebak. Dit was 'n ware skouspel met torings en oppervlakke wat die Kwaggakleure, waardes en simbole vertoon het. Vir die klasse wat self versier het, was dit 'n besondere spanbougeleentheid. Die pryswenners was:
eerste - 8G; tweede - 11B; derde -12B; vierde - 8A en vyfde - 10A.
Vrydagaand was dit die feesdinee en sewe oud-Kwaggas, Flip de Swardt (Leierskap: burgemeester), Louis van Rensburg (Leierskap: burgemeester), Chris Heunis (Leierskap: SARU), Braam van Huyssteen (Entrepreneurskap) André Fourie (SA Liggaamsbou), Johan Botha (Leierskap SA skol sport) en mev. Thea-Marie van der Sandt (Bergklim), het erekleure ontvang.
Jovan en Thelma, bekende sangpaar, het die gaste met musiek uit die boonste rakke vermaak.
Verskeie jaargroepe (1943, 1953, 1963, 1973, 1983, 1993 en 2003) het ook hul reünies gehou en verskeie ander oud-Kwaggas het by die groepe aangesluit. Die dag is met 'n lekker steakbraai afgesluit. Die gaste kon na die musiek van Splash luister en het die aand terdeë geniet.
Sondag het 'n dankdiens deur ds. Hannes Pretorius die verrigtinge afgesluit. Hoërskool Outeniqua se instrumentale en vokale ensemble het opgetree asook die koor wat die feeslied gesing het met drie soliste wat almal oud-Kwaggas is - Lida de Villiers (1989), Lynette Petersen (1997) en Susan Steyn (2002).
Nege oud-Kwaggas het erekleure ontvang tydens 'n dinee Vrydagaand. Van links: Sydney Stopforth, Braam van Huyssteen, Flip de Swardt, Louis van Rensburg, Chris Heunis, Thea-mari van der Sandt, Laurie Claassen, Johan Botha, André Fourie en Christo Vorster.
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'