GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua het soos dikwels die afgelope jare baie goeie matrieksuitslae gehad en het die hoogste slaagsyfer van alle openbare skole vir 2022 in George gehad. Die slaagsyfer was 99,7%.
Uit die 308 leerders wat matriek geskryf het, het 51 'n A gemiddelde behaal. Altesaam 92,5% het gekwalifiseer vir universiteitstoelating.
Die skoolhoof, Christo Vorster, het Vrydag 20 Januarie tydens die bekendmaking van die uitslae gesê dit het goed gegaan met die matriekklas van 2022.
Hy het egter goeie lewensadvies gehad vir die matrieks van 2022 wat nou gereed is om die wye wêreld aan te durf. "Dis baie maklik om te praat oor syfers. Dis maklik om doelwitte te stel en uiteindelik daar te kom.
"As ek om my kyk sien ek opvoeding wat plaasgevind het uit 'n ouerhuis en by die skool. Punte is belangrik, maar wie jy is, is meer belangrik."
Caro Giliomee, saam met haar ouers Le'ana en Ters.
Die skool is trots op die uitslae, maar is trotser op wie hy uitstuur om 'n verskil in die lewe te gaan maak.
Vorster het gevra dat wanneer die oudleerders hul punte ontvang, hul nederig sal wees want môre, oormôre gebeur iets met 'n persoon en dan weet hy/sy nie hoekom dit gebeur het nie.
Hy het gemaan teen arrogansie. "Nederigheid is 'n mooi eienskap."
Die toppresteerder is Caro Giliomee, wat 'n gemiddeld van 93,3% behaal het.
Nina Hattingh het die tweede beste presteer met 91% en Stefan de Beer derde beste met 89,6%.
Christo Vorster, hoof van Hoërskool Outeniqua maak die uitslae bekend.
Die matriekklas van 2022 ontvang hul uitslae.
Leerders en ouers wag Vrydag vir die aankondiging van die uitslae.
Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'