GEORGE NUUS - 'n Nuwe navorsingsentrum en akwaponiese stelsel word by Hoërskool Outeniqua gevestig wat sal help om leerders beter voor te berei vir toekomstige uitdagings. Dit vorm deel van die skool se eeufeesviering wat in 2023 plaasvind.
'n Tonnel is reeds aan die noordwestekant van die skoolterrein opgerig. Dit het verskeie mense se aandag getrek en tydens 'n geleentheid by die skool is meer besonderhede bekendgemaak.
Die geleentheid is bygewoon deur onder meer George-burgemeester Leon van Wyk, sakeleiers, verteenwoordigers van die landbougemeenskap, onderwysers en leerlinge.
Die skoolhoof Christo Vorster, het by die bekendstellings-geleentheid gesê dit bied 'n geleentheid vir leerlinge om betrokke te raak by werklike wêreldsituasies.
Projekte
Volgens Vorster is daar 'n aantal projekte wat die skool na kyk met die oog op die eeufeesviering. Die doel is om die leerlinge en die gemeenskap te bevoordeel. Een daarvan is die navorsingsentrum en akwaponiese stelsel.
Daar gaan ook aandag gegee word aan die verbetering van die skool se musieklokale. Die skool wil beter geriewe skep en dit kan daarop neerkom dat selfs 'n klein ouditorium gebou word.
Die skool het tradisioneel 320 gr. 8-leerlinge gehad, maar in 2019 was daar amper 900 aansoeke. Die skoolbestuur het toe besluit om voorsiening te maak vir 370 gr. 8-leerlinge. As die tendens voortduur sal nog lokale ingerig moet word.
'n Multi-funksionele aktiwiteit-sentrum gaan gebou word en daar word gehoop dat dit teen einde 2023 voltooi sal wees. Akademie, sport en kultuur sal voordeel daaruit trek.
Cameron Stronach, onderwyser in landbouwetenskap en leerlinge in die nuwe tonnel van Hoërskool Outeniqua. Foto: Eugene Gunning
Voordele van groenteprojek
Volgens Vorster het die skool in die verlede groente op die skoolterrein geplant. Dit is volhoubaar bedryf en is tot voordeel van die skool se finansies aangewend.
In 2016 het die skool besluit om landbouwetenskap as vak aan te bied. Aanvanklik was dit net 'n klein groepie leerlinge, maar dit het intussen gegroei.
In 2020, midde die Covid-19-pandemie, is besluit om 'n tonnel vir 'n akwaponiese stelsel te bou. Aanvanklik was die plan dat dit net gerig sou wees op landbouwetenskap, maar mettertyd is besef daar is 'n geleentheid vir 'n navorsingsentrum. Die skool bied 24 vakke aan en 16 daarvan sal voordeel trek uit die projek. Ekonomiese vakke kan ook voordeel trek soos byvoorbeeld die opstel van besigheidsplanne. Die tonnel kan later selfs 'n toeriste trekpleister word.
Vorster het benadruk dat die projek ook na ander skole in George uitgerol kan word. Die volhoubaarheid van die projek gaan afhang van die samewerking van die gemeenskap en goeie bestuur. Hy het die hoop uitgespreek dat elke leerling iets uit die projek sal kan leer.
Die nuwe tonnel vir die akwaponiese stelsel aan die noordwestekant van Hoërskool Outeniqua se skoolterrein.
Die binnekant van die nuwe akwaponiese tonnel. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'