Gallery
GEORGE NUUS - Hoërskool Outeniqua se eeufeesdinee was 'n luisterryke geleentheid met bekendes, befaamdes en doodgewone Kwaggas wat hul knieë buig vir 'n honderd jaar van onderwys en kennis.
Die GJB Volschenksaal het verlede Vrydagaand geskitter in kerslig en swier, met 'n feestelike atmosfeer wat tussen die gaste geheers het. Die dinee was een van die skool se hoogtepunte op hul eeufeeskalender.
Ere-Kwaggas Jan en Carolien van Rensburg (Van Rensburgs Foods), en Louis van Rensburg (Van Rensburgs Auctions) was die hoofborge van die aand. Van Rensburgs Foods het die eerste eretoekenning in die besigheidskategorie as ere-Kwaggas ontvang.
Ander borge sluit in Mercedes-Benz, Optimum Financial Services Group, Cederberg South Africa, CAW Signs & Print, Kreative Mind Productions, Suid-Kaap Seep, Cobble Paving, Boeke 24/7, En Route 24 Kraaibosch en Loerie Bakkery.
'n Feestelike atmosfeer in die GJB Volschenksaal by Hoërskool Outeniqua. Foto: Anine Koch
Historiese jaar
Skoolhoof Christo Vorster het gesê dit is 'n ongelooflike eer om deel te wees van hierdie historiese jaar: "Oor die afgelope 100 jaar het daar baie veranderings hier op die hoek van Courtenayweg en Mitchellstraat plaasgevind."
Die skool het oor die jare gegroei, van 23 leerders in 1923, na 'n totaal van 1 720 leerders in 2023. Teen 2025 behoort daar 1 820 leerders in Hoërskool Outeniqua te wees.
Eeufees-direkteur, adjunkhoof en hoof van akademie, Chris Hattingh, het die verrigtinge as seremoniemeester gelei. Corinne Robertson (96) van Somerset-Wes was die oudste Kwagga wat die geleentheid bygewoon het.
FOTOGALERY: Eeufeesdinee by Hoërskool Outeniqua
Lydia-Marie Joubert, duxleerder van 1976 wat as wêreldbekende mikrobioloog in Kalifornië woon en werk, en Christo Lamprecht, die jong gholfster van George. Foto: Anine Koch
Onthou jy nog?
Van die staanspoor af was daar Kwaggas wat diep spore in ons land se geskiedenis getrap het. Van hulle het die dinee as ere-Kwaggas bygewoon, waaronder die bekende sanger en liedjieskrywer Gert van Tonder, lid van die destydse musiekgroep, Groep Twee; Mej. Heelal van 2017, Demi-Leigh Tebow; sportsterre Elroy Gelant (langafstandatleet), Christo Lamprecht (gholf) en Erica Terblanche (langafstandatleet); etiketkenner Emsie Schoeman (90) en die eNCA nuusanker en radio-omroeper Sue Pyler, wat ook 'n aanbieder van die aand was.
Die gholfster Christo Lamprecht, het die onderwysers bedank vir die ekstra myl wat hulle bereid was om te loop. "Tweede pouses moes hulle help om werk te verduidelik wat ek gemis het, en elke nou en dan was ek vir 'n paar dae weg," het hy gesê.
Demi-Leigh Tebow (néé Nel-Peters) het haar laaste dag by Hoërskool Outeniqua as baie hartseer beskryf: "Dit was die einde van 'n era, maar ek het 'n sterk fondasie gehad. Ek is die resultaat van 'n rimpeleffek van goedheid. Ek mag dalk met 'n Amerikaanse aksent praat, maar ek sal nooit my Kwagga-wortels vergeet nie."
Tebow was ook die skool se hoofdogter in 2013.
Die langafstandatleet Erica Terblanche, het vyf van haar boeke aan die skool geskenk: "In die Afrikaans-klas het mnr. Hattingh een keer gesê: 'Skrywers is die gewete van die nasie'. Ek het toe geweet ek gaan eendag skryf, ek het nooit geweet ek gaan hardloop nie."
Sy onthou dat Flip de Swardt, oud-wiskunde onderwyser, so op een been gestaan en die hele bord vol geskryf het. "'n Skool soos Hoërskool Outeniqua gee 'n mens 'n hupstoot in die lewe," het sy gesê.
Lydia-Marie Joubert, die skool se duxleerder van 1976, is 'n wêreldbekende mikrobioloog wat woon en werk in Kalifornië. Sy onthou hoe 'n klein gebaar 'n groot verskil in 'n kind se lewe kan maak: "'n Bemoedigende woord of 'n handdruk van 'n onnie kan die wêreld beteken."
Demi-Leigh Tebow, 'n voormalige Mejuffrou Heelal, ontvang haar eresertifikaat van skoolhoof Christo Vorster. Foto: Anine Koch
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’