GEORGE NUUS - 'n Klag teen die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer, oor 'n besluit om die voedingskema by skole in die Wes-Kaap tydens grendeltyd voort te sit, word deur die polisie ondersoek.
Icosa se nasionale woordvoerder, Dawid Kamfer van Mosselbaai, is van mening dat Schäfer met hierdie besluit die wetgewing op die regulasies tydens die algehele inperking oortree. Kamfer het Maandagoggend verneem dat die polisie die saak verder ondersoek.
"Ons wil hê hulle moet kyk of die minister die wet oortree het," het hy gesê. "Dit is net die Wes-Kaap wat die voedingskema nou volg, en nêrens was daar 'n aankondiging oor 'n aanpassing van die wet nie.
"Dit gaan meebring dat kinders op strate rondlê en sodoende weerlose gemeenskappe se kanse op Covid-19 besmetting vergroot."
Kamfer is ook van voorneme om 'n skrywe aan die nasionale minster van onderwys, Angie Motshekga, en president Cyril Ramaphosa te rig.
Die voedingskema by skole is Dinsdag op versoek van Schäfer hervat om behoeftige kinders en ouers tydens hierdie tydperk van algehele inperking by te staan.
Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer
Kritiek 'skandelik'
Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het kritiek oor die inisiatief as skandelik bestempel. Hy het gesê gemeenskappe verhonger in hierdie tyd. In 'n sterk bewoorde mediaverklaring verlede Saterdag, het Winde gesê bykans 100 000 kinders het op die eerste dag van die voedingskema by skole opgedaag.
"Vir baie kinders is dit die enigste maaltyd wat hulle daardie dag ontvang," het Winde gesê. Hy het gesê dit gaan sy verstand te bowe dat opposisiepartye, onderwysersunies en Cosatu in die Wes-Kaap vra dat hierdie belangrike humanitêre poging gestaak word.
Volgens hom maak die regulasies voorsiening vir mense om te gaan kos koop en dit maak nie sin om honger kinders hulle reg tot voedsel te ontneem nie. "Die regulasies laat die regering toe om voort te gaan met sopkombuise en ander voedselskemas. Die departement van onderwys het ingetree omdat die departement van sosiale ontwikkeling nie aan al die behoefte kan voldoen nie."
Moeilike tyd
In 'n skrywe aan Kamfer, het Schäfer gevra vir sy ondersteuning. Sy het baie klagtes van mense ontvang van kinders wat honger ly, omdat hulle nie meer kos by die skole ontvang nie. Sy het Kamfer verseker dit is nie die "gewone" voedingskema nie.
"Dit sal goed bestuur word sodat mense 'social distancing' praktiseer, sodat die kinders en die mense wat die kos maak, veilig kan wees. Ons sal die kinders vra om hulle eie blikkies saam te neem, sodat hulle die kos huis toe kan neem. Ons het gesprekke met die polisie gehou vir addisionele veiligheid.
"Daar sal min onderwysers betrokke wees, maar die skoolhoof moet die reëlings tref. Natuurlik sal alles gedoen word om al die betrokke mense veilig te hou," het sy gesê.
"In hierdie baie moeilike tyd, is dit belangrik dat elkeen van ons ons deel doen om deur die krisis te kom. Dit sal wel 'n wonderlike idee wees as u organisasie help om die reëlings vlot te laat verloop, en miskien help om die kinders veilig te hou. Die nood is groot, en ons doen ons bes om te help waar dit nodig is," het Schäfer gesê.
Dawid Kamfer dien verlede Donderdag 'n navraag vir 'n ondersoek oor die voortsetting van die voedingskema by skole by die polisie op Mosselbaai in. Die saak is intussen na 'n formele klag verander, teen die Wes-Kaapse minister van onderwys, Debbie Schäfer.
Kinders 'loop rond'
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (Sadou) en die voorsitter van die portefeuljekomitee vir basiese onderwys, Bongiwe Mbinqo-Gigaba, deel Kamfer se kommer. In 'n mediaverklaring verlede Dinsdag word die voedingskema as 'n ondermyning van die president se pogings om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan, bestempel.
Kamfer het gesê dit is reeds moeilik om volwassenes te beheer. "Nou gaan kinders in hul hordes op straat rondloop - met 'n verskoning," het hy gesê.
Volgens Kamfer is Icosa nie teen die feit dat die kinders kos ontvang nie, maar die manier waarop dit nou geskied. "Hulle kan die kos by die huise aflaai, daar sal minder kontak wees."
Die amptelike syfer vir Covid-19 gevalle op Mosselbaai was teen verlede Saterdag 17. "Ons weet nie wie die mense is nie. Soveel mense kan aansteek. Op die ou end het ons 'n ramp wat niemand kan keer nie," het Kamfer gesê.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'