Die burgemeester, me. Diane de Jager, die speaker, mnr. Pierre Nel, asook die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Trevor Botha is uit hul stoele gelig.
Politieke rugstekery was aan die orde van die dag toe drie van die ses OD-raadslede hul gewig agter die twee NPP-raadslede en agt ANC-raadslede gegooi het om die pot behoorlik te roer met die samestelling van die raad. Mnre. Shepstone Billy, Gordon April en Jurie Harmse het me. Patricia de Lille se party-ooreenkoms met die DA verbreek deur teen die koalisie te stem.
Die ANC se hoofsweep, mnr. Wilton Kawa, was die mosie-steller om eers van die speaker ontslae te raak. Met die ANC se mnr. Charlie Wagenaar in speaker se stoel, wat nog warm gesit was deur Nel, het Kawa die mosie gestel om die burgemeester ook van ’n mindere sitplek in die raadsaal te voorsien. Met die stel van die mosie het die DA en die oorblywende drie OD-raadslede reeds die nuut beheerde magsbasis verlaat, maar met ’n kworum van 13 raadslede het die vergade-ring voortgegaan.
In haar afwesigheid is De Jager uitgestem en die OD se April in haar plek as eerste burger ingestem.
Steeds was die proses om die koppe te laat rol nie verby nie. ’n Dringende mosie is suksesvol deur Kawa ingedien om die waarnemende munisipale bestuurder uit sy stoel te lig en mnr. Llwellyn Coetzee in sy plek te laat waarneem.
Mnr. Carmicheal Ngalo (ANC) is aangestel as onderburgemeester.
Prof. Johan Olivier, DA-woordvoerder, het Woensdag gesê die DA se leierskap sal ernstig oor Oudtshoorn moet besin.
Tussenverkiesing
Gerugte dat die drie OD-raadslede wat hul gewig agter die ANC gegooi het hoë poste en ANC-bystand beloof is, kon nie teen druktyd bevestig word nie.
Na bewering sou beloftes aan hulle gemaak word dat indien die twee OD-wyksraadslede, April en Harmse uit die OD geskors word, hulle met ’n tussenverkiesing die ANC-kandidate in hul wyke sal wees waar hulle tans dien. Gerugte dat Billy, ’n proporsionele OD-raadslid, reeds Dinsdagaand deur De Lille die trekpas gegee is, kon ook nie teen druktyd bevestig word nie.
Ook Billy is na bewering deur die ANC met beloftes van óf bystand óf ’n senior ANC-pos omgekoop.
Pietersen dalk gou terug
Die ANC se motief om van die speaker, die burgemeester en die waarnemende munisipale bestuurder ontslae te raak, is na bewering om hulle in staat te stel om die geskorste munisipale bestuurder, mnr. Noël Pietersen, weer in sy pos aan te stel.
Teen Woensdagoggend het die Oudtshoorn Courant reeds van ’n betroubare bron verneem dat die ANC se dokumentasie om Pietersen her aan te stel reeds in plek was vóór Dinsdag se gewraakte raadsvergadering.
Pietersen staar tans ’n diefstalverhoor in die Oudtshoorn-streekhof in die gesig wat verband hou met beweerde verdagte uitbetalings gedurende sy tydperk as munisipale bestuurder.
Die Departement van Openbare Vervolging se skrywe dat Pietersen krimineel vervolg moet word, is in die Oudtshoorn Courant se besit.
Artikel: Christo Vermaak, Oudtshoorn Courant, susterkoerant van die George Herald.
Foto's: Jaco Human
.jpg)
Van links is die Oudtshoorn-munisipaliteit se nuutaangestelde speaker, mnr. Charlie Wagenaar (ANC), die nuwe burgemeester, mnr. Gordon April (OD) en die nuwe onder burgemeester, mnr. Carmicheal Ngalo (ANC).