GEORGE NUUS - 'n Suksesvolle talentkompetisie is Sondag 26 Januarie in die Wilderness-hotel gehou ter nagedagtenis aan wyle Emerencia Roman (19) wat in Desember verlede jaar in Kleinkrantz vermoor is.
Volgens een van die orgniseerders, Quaanitah Simons is die konsert 'n inisiatief van 'n groep bekommerde ouers wat saam begin bid het.
"Ouers het begin bid en die Here se hulp gevra om sosiale euwels soos dwelm- en alkoholverslawing en smokkelary in die area uit te wis ná die wrede verkragting en moord op Emerencia. Geen arrestasies is nog gemaak nie. Die gemeenskap is geruk deur die voldonge feit dat sonder behoorlike infrastruktuur, ontspanningsfasiliteite en aktiewe ingryping in die lewe van ons kinders en jeug gaan ons hulle verloor en gaan die gemeenskap disintegreer tot 'n staat van sosiale verval."
Sy sê hulle voel dat hulle proaktief moet wees en het besluit op 'n talentvertoning om die moreel van die mense 'n hupstoot te gee. "Ons wou die hoop en geloof in Kleinkrantz se inwoners aanwakker dat die huidige stand van sake nie is hoe dit hoef te wees nie. Die tyd om ons lot, wat aan hierdie land gebind is, te verander, is nou.
"Die konsert was vir seker 'n bewys van die krag wat in ons lê as ons saamwerk en ons vindingrykheid saamgooi om geleenthede te skep vir kreatiewe uitdrukking. Dan is die moontlikhede oneindig."
Die geleentheid is ondersteun deur die wyk 4-komitee waarvan raadslid Marlene Barnardt die voorsitter is. Barnardt asook raadslid Patrick Buys was in die gehoor wat vasgenael gesit het terwyl talle talentvolle jongmense met hul musiek- en danstalent beïndruk het. Nog 'n organiseerder, Cedrick Buys, het almal bedank wat bygedra het - die hotel se bestuur en personeel vir die gebruik van die konferensiesaal en die verversings asook die ander borge, naamlik Bidfood, Pon Cyster-taxidiens, George-munisipaliteit se gemeenskapsdienste, die programaanbieder Johnathan Fortuin en dr. Matthi Trohen en almal wat gebak en geskenk het vir verversings. "Ons beplan vir Maartmaand weer 'n lekker sang- en musiekaand in Wildernesshoogte. Ons raadslede in wyk 4 staan bankvas agter ons met hierdie inisiatiewe."
Vir meer inligting, kontak Buys by 072 727 3846.
Deelnemers en organiseerders van die talentkompetisie wat Sondag gehou is.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'