NASIONALE NUUS - Jong klassieke musici van regoor die land kan by die 42ste Nasionale Jeugmusiekkompetisie (NJMK) ’n gedeelte van R180 000 se prysgeld wen.
Instrumentaliste tussen die ouderdomme van 14 en 19 kan nou vir die kompetisie registreer om vir die gesogte goue, silwer en brons medaljes mee te ding.
Die 2026 NJMK vind van 30 November tot 5 Desember by die Universiteit Stellenbosch se Endler-saal plaas.
Aileen Maas, die NJMK se koördineerder, sê die kompetisie is al beskryf as een van die mees uitmergelende Suid-Afrikaanse musiekkompetisies.
Belangstellendes moet deur middel van ’n video-opname registreer. Uit hierdie inskrywings word ’n maksimum van 25 kandidate gekies om aan die kompetisie deel te neem.
Oor die vyf dae lange kompetisie moet die kandidate dan ’n wye repertoire van hul keuse uitvoer, wat verskillende stylperiodes en Suid-Afrikaanse komposisies dek. Al die deelnemers sal in die eerste twee rondes speel. Daarna sal 12 semifinaliste in die halfeindronde meeding om die top ses te bepaal. Die ses finaliste spook sake dan in ’n galakonsert uit, met begeleiding van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).
Aileen Maas, koördineerder van die Nasionale Jeugmusiekkompetisie.
“Dit bied ’n platform vir jong talentvolle musici, aangesien die kompetisie daarop gemik is om tienersterre te identifiseer, bloot te stel en te ontwikkel,” sê Maas.
Volgens haar is dit ook die enigste Suid-Afrikaanse kompetisie waar die finaliste deur die KFO begelei word.
Voornemende kandidate kan die NJMK-inskrywingsvorm by www.nymc.co.za kry. Inskrywings sluit op 23 Junie. Al die inligting en kompetisiereëls is ook op die webwerf.
Die deelnemers sal in vyf kategorieë vir orkesinstrumente meeding - klavier, strykinstrumente, houtblaasinstrumente, koperblaasinstrumente en ander orkesinstrumente (harp, perkussie, marimba, xilofoon, ens.).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’