Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kommer is aan die toeneem dat as daar nie vinnig opgetree word met die herstel van die historiese Montagupas buite George nie, dit 'n punt kan bereik waar dit nie meer gered sal kan word nie.
Die situasie word erger want elke keer as dit reën soos die afgelope tyd, verswak die toestand van die pad.
Daar was egter Dinsdag 10 Oktober darem 'n brokkie goeie nuus.
Willie-John van Niekerk, voorsitter van die George Erfenistrust, het by navraag bevestig dat Erfenis Wes-Kaap 'n permit vir die herstel van die pas reeds in Augustus uitgereik het. Hy het gesê bepaalde prosesse word nou gevolg en meer besonderhede sal later verskaf word. Die George Erfenistrust steun pogings om die pas te herstel.
Dit kom teen die agtergrond van die situasie met die pas wat al maande sloer.
Dr. Natie de Swardt, erfeniskundige en voorsitter van die Simon van der Stel Stigting: Suid-Kaap het Dinsdag gesê elke keer as dit reën gaan die pad verder agteruit.
Die stigting hou op 21 Oktober 'n uitstappie na Herold aan die noordelike kant van die pas. Daar word gehoop dat die uitstappie openbare bewustheid oor die situasie van die pas sal bevorder.
Die ou tolhuis aan die voet van die Montagupas. Foto: Eugene Gunning
De Swardt glo die situasie moet nou op die spits gedryf word.
Volgens hom sê siviele ingenieurs dat 'n pad 'n punt kan bereik waar dit onherstelbaar raak. 'n Kundige op die terrein het aan die stigting gesê die Montagupas is nog nie by daardie punt nie, maar dis nou naby.
Hy het gesê die pas is 'n provinsiale erfenisterrein en die provinsiale regering het dus 'n verantwoordelik-heid om dit in stand te hou.
Hy het verwys na bepaalde uitdagings. In die verlede is masjiene gebruik om dit in stand te hou. Die pad is egter destyds oorspronklik met die hand gebou en die instandhouding moes per hand gedoen word.
As die instandhouding per hand geskied kan dit gedoen word met werkskeppingsprogramme.
Theo Adams, sakeman en boer van Herold, het gesê hy steun enige poging om die pas te herstel. Dit moet so spoedig moontlik gebeur want dit kan help om toerisme te bevorder.
VIDEO: 'n Deel van die Montagupas op Woensdag 11 Oktober. Video: Eugene Gunning
Die beeldskone Montagupas voor dit gesluit is. Foto: Jeff Ayliffe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’