Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Tuinroete het sy eie Camino-staproete. Dit is baie gebaseer op die Camino de Compostela-staproete in die noorde van Spanje wat jaarliks groot getalle besoekers van regoor die wêreld lok. Na raming stap sowat 2,5 miljoen pelgrims jaarliks die roete.
Die Tuinroete Camino, is 'n sustersroete van die Pelgrimstog vir Hoop wat in die Stellenbosch- en Overberg-omgewing bestaan en baie gewild is.
Die eerste groep stappers op die Tuinroete se Camino het in die week van 14 Junie informeel gestap en die tweede formele groep maak hierdie naweek klaar. Hulle het verlede Vrydag, 25 Junie, in Uniondale begin en maak môre, 2 Julie, 'n draai by die ou tolhuis onderweg na die St. Blaise-vuurtoring in Mosselbaai.
Ds. Gert Nothnagel, leraar van die NGK Herold-gemeente, het by navraag bevestig dat die roete in die omgewing begin is en dat verskeie belanghebbendes daarby betrokke is.
Die gedagte om 'n plaaslike Camino te vestig kom 'n lang pad. 'n Paar jaar gelede (2018) het nuwe intrekkers in die gebied tydens Pinksterdienste met hom daaroor gepraat. Daar is besef daar is sewe kerke op verskeie plekke in die gemeente waarheen mense kan stap.
Tydens die NGK-sinode in 2019 het Nothnagel en kollegas van Uniondale en George een oggend saam met ds. Frederick Marais van Stellenbosch, wat betrokke is by die Camino-roete in die Overberg, gaan draf. Marais was bereid om sy kennis te deel.
In 2020 het Covid-19 gekom en dinge het stilgestaan. Vroeër vanjaar was daar onder meer 'n gesprek met Theo Adams, 'n rolspeler van Herold. Hy het 'n voorstel gemaak oor die vuurtoring as 'n eindbestemming (aan die hand van die Elders TV-program van Erns Grundling).
Kyk 'n video hieronder:
'n Paar weke gelede het belanghebbendes bymekaargekom en die bal was aan die rol.
Die roete begin in Uniondale en beslaan 'n afstand stand van sowat 250 km oor 12 dae.
Daar word oor privaat en openbare grond gestap. Die plan is om aanvanklik nie meer as ses stappers toe te laat nie. Die stappers gaan by gastehuise en op plase tuis. Die roete is veilig en word gesien as 'n gemeenskapsprojek.
Nothnagel het gesê dit stimuleer die plaaslike ekonomie en kan besoekers na die gebied lok.
Die Camino-gedagte is baie gewild en word gesien as fisieke en innerlike heling. Mense raak stil en op dele van die roete is daar byvoorbeeld nie selfoon ontvangs nie.
Kontak Gert Nothnagel by 082 829 5407 / gnothnagel@gmail.com
IN SHORT:
It is now possible to walk a route in the Garden Route that is based on the famous Camino de Compastello in northern Spain. The route in Spain attracts every year visitors from all over the world. The first informal group walked the Garden Route in the week of 14 June. The first formal group will finish the route this coming weekend in Mossel Bay. They started last week (25 June) in Uniondale.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'