GEORGE NUUS - As deel van Biblioteekweek hou die Suid-Kaapse tak van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika 'n uitstalling by die George-biblioteek.
Die uitstalling duur tot aanstaande Donderdag, 31 Maart.
Wilkie Barkhuizen, 'n lid van die Suid-Kaaptak het verlede Donderdag, 10 Maart,'n eksemplaar van die boek, Barkhuizen familieregister deur Johan Barkhuizen aan die biblioteek oorhandig.
Volgens Barkhuizen is die Suid-Kaaptak in 2012 gestig. Hy het gesê die genootskap is hier om mense te help. Dit gee aandag aan navorsing oor onder meer mense se stamboom en familiegeskiedenis.
Daar is 'n toename in belangstelling in die aangeleentheid. Verblydend is dat meer en meer jongmense daarin belangstel. Hulle wil weet waar hul oumas en oupas vandaan kom. Mense is ook trots op hul familiegeskiedenis.
Op die oomblik het die Genootskap 11 takke regoor die land. Dit sluit in onder meer Natal, Johannesburg, Pretoria, George (Suid-Kaap) en Kaapstad (Wes-Kaap).
Elmine Vorster, naslaanbibliotekaresse van die George-biblioteek, het gesê die uitstalling is tot einde Maart by die biblioteek oop vir die publiek.
Sy het benadruk die biblioteek is 'n plek vir die gemeenskap en mense is welkom om dit te besoek. Die biblioteek verskaf onder meer 'n diens aan mense wat in genealogie belangstel.
Mense wat belangstel om betrokke te raak kan Wilkie kontak by 082 826 1724.
Wilkie Barkhuizen oorhandig 'n eksemplaar van die boek, Barkhuizen familieregister aan Elmine Vorster van die George-biblioteek. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'