GEORGE NUUS - Die jong diereliefhebber van George, Luhan Smit, wat honde/katkos en kontant bydraes vir Oudtshoorn Dogs in Need (Odin), insamel, se poging maak vanaand, 30 Desember, klaar.
Mense wat nog wil help, moet dus spring. Sy mikpunt was om vanjaar twee ton kos in te samel.
Die 11-jarige Luhan van Ribbokstraat 46 het al die afgelope paar jaar gewys dat hy 'n groot hart het. Dit het in 2020 begin en elke jaar kan mense kos, komberse, mieliemeel of kontant skenk terwyl hulle na die Kersliggies kyk in die straat waar hy saam met sy ouers, Kobus en Belinda woon.
Luhan se pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis met die mooiste Kersliggies. 'n Buurman, Dirk Barnard, het Luhan inspireer om met sy poging te begin. Hy het destyds vir Luhan 'n kartondoos vol 10 sent stukke gegee en gesê hy moet kos vir diere daarmee koop.
Verlede jaar het Luhan 1,4 ton ingesamel.
Luhan het Vrydag 29 Desember gesê hy het reeds die mikpunt van twee ton bereik, maar nog bydraes is welkom.
Volgens hom het hy dit baie geniet om die kos in te samel en het grappenderwys bygevoeg: "Ek is net in die aande na die tyd moeg."
Hy is van voorneme om die bydraes Maandag 1 Januarie om 10:00 aan Odin in Blanco te oorhandig as dit nie reën nie.
Hy het sy dank teenoor almal uitgespreek wat bydraes gemaak het.
*Oewerstraat se liggies word moreaand, 31 Desember die laaste keer aangeskakel. Die plan is om dit Maandag 1 Januarie af te haal.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’