GEORGE NUUS - Die Ballotsview Baptistekerk, wat ook 'n kleuterskool en nasorg vir die gemeenskap van Parkdene bied, is Dinsdagaand, 25 Julie, gedeeltelik in 'n brand verwoes.
Pastoor Willem Frans sê hy het omstreeks 18:45 'n oproep ontvang en hom na die kerk gehaas. Die brandweer was gou op die toneel en kon verhoed dat die hele gebou afbrand.
Die skade van die brand is op die stadium onbekend. Die kleuterskool, wat deur die kerk gefinansier word, het 47 kinders in hul sorg tussen die ouderdomme van 18 maande en ses jaar.
Die kombuis en badkamer het afgebrand en die items wat in die brand vernietig is sluit 30 matrasse, komberse, twee stowe, 'n yskas en musiekinstrumente van die kerk in. Frans sê daar is boodskappe aan die ouers gestuur om hulle in kennis te stel dat daar tydelik geen skool vir die kleuters sal wees nie.
Enige persoon wat hulp aan die kerk wil verleen om hul struktuur weer op die been te kry kan pastoor Frans by 076 446 3158 skakel.
ARTIKEL: BRUMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'