Gallery
GEORGE NUUS - 'n Jong man van Blanco, Rezail Slotto (18) en twee inwoners van Friemersheim naby Groot-Brakrivier, Samuel Williams (43) en Jerome Minnies (31) is dood ná die bakkie waarin hulle gery het, in 'n kloof langs die pad afgestort het.
Slotto en die ander twee slagoffers was verlede Saterdag, 27 April, na sy ouma, Eva Scheepers van Friemersheim, se 60ste verjaarsdag onderweg toe die ongeluk op die Kleinplaaspad plaasgevind het.
Die bakkie waarin die mans met Scheepers se verjaarsdagkoek na die kerksaal onderweg was, het in 'n kloof langs die pad afgestort en tussen 'n beboste gebied, bykans 100 m verder, tot stilstand gekom. Die gebied is tussen die woongebied, Wolwedans en Friemersheim geleë.
'n Inwoner van Friemersheim, Christy Qhwelo (40) het vir Scheepers op Friemersheim opgetel om haar na haar partytjie te vat toe hy op pad na die onthaalsaal die spore van motorbande oor die pad sien lê. Hy het dadelik besef daar is fout en het eers vir Scheepers by die saal afgelaai waarna hy terug is na die toneel.
Qhwelo het 'n ent afgestap en op bokse en die Nissan-bakkie se nommerplaat afgekom. Hy het die Groot-Brakrivier-polisie ontbied waarna polisiebeamptes op die motorwrak afgekom het. Die wrak het egter in 'n gebied gelê waar dit moeilik bereikbaar was. Paramedici is ook na die toneel ontbied en het die oorledenes op die toneel dood verklaar.
Bykans 60 mense sou die partytjie bywoon, maar nadat die hartseer tyding aan die familie oorgedra is, is almal huis toe. Intussen het die polisie en nooddienspersoneel besluit om die hulp van 'n AMS-helikopter in te roep om die wrak en die liggame van die oorledenes te verwyder. Weens digte mis en die beboste terrein kon die operasie egter eers die volgende dag, op Sondag 28 April, uitgevoer word.
'n Span van bykans 30 mense het aan die operasie deelgeneem, wat teen 07:00 begin het en teen Sondagmiddag is die liggame suksesvol uit die kloof verwyder.
Die bakkie gaan na wat verneem word op die toneel bly. Die families het die liggame by die lykshuis op Mosselbaai uitgeken. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie bekend nie.
'n AMS-helikopter besig om een van die liggame uit te bring.
Strafbare manslag
Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie en die polisie vermoed die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor. Die polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
Verskeie sosiale media gebruikers het na aanleiding van 'n berig oor die voorval op Facebook gevra hoe die polisie 'n saak van strafbare manslag kan open wanneer almal in die ongeluk dood is. Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder kapt. Malcolm Pojie sê in enige geval waar iemand in 'n motorongeluk dood is, word die dossier geopen. "Die omstandighede word ondersoek en is nie noodwendig 'n saak teen 'n persoon nie. Dit is slegs prosedure."
Rezail Slotto (18).
Slotto word eerskomende Saterdag begrawe. 'n Huisdiens sal om 09:00 in Golden Valley (Blanco) plaasvind. Daarna sal 'n roudiens om 10:00 in die Nuwe Apostoliese Kerk gehou word. Hy laat sy ouers, Rosina en Collin Slotto, susters Anescka en Colleen Booysen en broer, Ruwan Booysen, na.
Die voorval volg na 'n swart naweek op die Wes-Kaapse paaie. Provinsiale verkeershoof, Kenny Africa sê altesaam 26 mense is sedert Vrydag tot Maandagoggend op die provinsie se paaie dood. Slegs een daarvan is 'n bestuurder, een 'n fietsryer en die res is almal passasiers wat in motorongelukke omgekom het.
IN SHORT
A young man from Blanco, Rezail Slotto (18), died tragically in a car accident on his way to his grandmother's birthday in Friemersheim near Great Brak River. Two other residents from Friemersheim, Samuel Williams (43) and Jerome Minnies (31) also died after the bakkie they were traveling in tumbled down a ravine next to the road. Slotto and the other two victims were on their way to his grandmother's 60th birthday last Saturday 27 April, when the accident took place on the Kleinplaas road.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'