GEORGE NUUS - Afrikaans mag gebruik word wanneer verklarings by enige polisiestasie in die Wes-Kaap gegee word.
Luidens 'n verklaring deur die Kaapse Forum, is dit onlangs bevestig deur Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.genl. Thembisile Patekile.
Dit volg nadat die SAPD in die Noord-Kaap bevestig het dat hulle Afrikaans as 'n dienstaal sal aanbied indien versoek.
Volgens artikel 6(3)(1) van die Grondwet moet provinsiale regerings 'n minimum van twee amptelike tale gebruik wanneer hulle met die publiek handel.
Patekile het saamgestem met Kaapse Forum dat die publiek 'n amptelike taal wat hulle gemaklik mee is, mag gebruik wanneer hulle verklarings maak.
Volgens Patekile is Engels slegs die "werkstaal" van die SAPD en die gebruik van Engels geld slegs vir lede en nie die publiek nie.
Tydens 'n Pan South African Language Board (PanSALB)-konferensie in Maart vanjaar, is onder andere gesê dat daar 'n risiko bestaan dat feite verdraai kan word en dit kan lei tot die belemmering van geregtigheid as verklarings in Engels geneem word deur SAPD-lede wat 'n ander moedertaal het. Dit kan uiteindelik daartoe lei dat geregtigheid nie gedien word nie.
"Dit is bemoedigend dat daar nou 'n geskrewe waarborg is vir die gebruik van Afrikaans by polisiekantore in die Wes-Kaap.
"Afrikaans en sprekers van ander tale moet die geleentheid gegee word om misdade na die beste van hul vermoë aan te dui," sê Bernard Pieters, hoof van gemeenskapsaktiwiteit by Kaapse Forum.
Die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, het by navraag bevestig dat 'n amptelike SAPD-riglyn aan alle polisielede in die Wes-Kaap versprei is, ook in George.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’